Die Weg

 

Ons kannie maar ons MOET

Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe”. - Kolossense 3:13.

Een van die moeilikste dinge in die wêreld is blykbaar om iemand te vergewe. Daar word baie gepraat van vergewing, herstel en genesing, maar 'n mens sien dit baie min gebeur in die lewe. Elkeen wil homself graag voorhou as 'n vredemaker, as iemand wat die hand uitreik na 'n gevalle mens, altyd vergewensgesind sonder om 'n innerlike wrok rond te dra. Maar selfs die mees geestelike mense is daaraan skuldig dat hulle hul broers en susters nie kan vergewe vir een of ander iets nie.

* Selfs die beste Christene vind dit moeilik om dié mense te vergewe wat hulle in hul trots gekrenk het. As twee vriende 'n uitval gehad het, is dit heel moontlik dat daar 'n lewenslange kloof tussen hulle sal bestaan. Hulle sal dit dalk nooit toegee nie, want hulle bedek hul onvergewensgesindheid met beleefdheid, mooi woorde en uitnodigings van “kom drink 'n koppie koffie”. Maar dinge is nooit weer dieselfde nie. Ons haat nie die ander persoon nie; dit is asof ons wil sê: “ek het niks teen hom nie, maar hou hom net weg van my. Laat hy sy weg gaan, dan gaan ek myne”.

* Dit is veral moeilik om iemand te vergewe wat ondankbaar is. Jy het liefde betoon aan iemand, maar het geen liefde terug ontvang nie. Jy het jouself opgeoffer om 'n vriend in nood te help, maar al wat jy ontvang is 'n vrag kritiek, of jy ontvang nie eens 'n woord van dank nie. Die persoon na wie jy uitgereik het, toon niks anders as ondankbaarheid en egoïstiese gedrag nie. Jou goeie bedoelings word verkeerd verstaan en jou goeie dade word deur hom verdraai ter wille van sy eie belang. Vergewe ons sulke ondankbare mense ooit? Byna nooit! Ons glimlag hulle toe, ons groet op 'n afstand, maar ons is vasbeslote om “nooit weer iets vir hulle te doen nie”.

* Dan kom ons by dié wat ons willens en wetens belieg (om dit kras te stel). Hoe sal ons hulle ooit kan vergewe?  Daar is niks wat ons meer kwaad maak as om te ontdek dat iemand leuens aan ons vertel het nie.

* Kan ons dit aanvaar as iemand vir ons sê dat ons verkeerd is? Ons is mos daarvan oortuig dat ons goeie rede het vir alles wat ons doen, daarom vind ons dit baie moeilik om iemand te vergewe wat skimp dat ons 'n fout gemaak het. In plaas daarvan om eerlik te kyk na wat die persoon vir ons wil sê, probeer ons ons eie handelinge regverdig.

Kan ons vergewe? In Sy onderrig oor gebed het Jesus gesê: “gee ons vandag ons daaglikse brood;  en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe” (Matt 6:11-12).

David Wilkerson

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css