Die Weg

 

Net op 'n deurreis

Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige”. - Hebreërs 13:14.

Die Heiland het van Sy verblyf op aarde gepraat as 'n werksdag. "Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, solank as dit dag is," het Hy gesê; "die nag kom wanneer niemand kan werk nie" (Joh 9:4). As gesant van God het Hy op aarde geen blywende tuiste gehad nie; as vreemdeling het Hy onder die aardbewoners vertoef ter wille van die koninkryk van die hemele wat Hy kom verkondig het. Daarom kon Hy verklaar: "Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy Sy hoof kan neerlê nie" (Matt 8:20 ).

Ook ons lewe moet wees soos dié van mense wat hier geen blywende stad het nie. Om ons ewige bestemming in die oog te hou, moet ons alles wat hierdie lewe ons kan bied, sien as verbygaande. Ons hét hier 'n Godgegewe taak om te verrig, maar vir die taak sal ons alleen opgewasse wees as ons op aarde vreemdelinge bly, as ons soos Abraham "die stad verwag ... waarvan God die boumeester en oprigter is" (Hebr 11:10 ).

Die groot stede was deur die eeue vestings en dikwels die trots van volkere. Daarom hierdie beeld van die gelowige wat hom vanuit sy aardse tuiste uitstrek na die hemelse Jerusalem, die stad met vaste fondamente.

Ons is soekers na wat ons reeds in wese besit. Ons tas nie rond in onsekerheid nie. Ons glo aan die wederkoms van Christus op die wolke; ons weet dat ons pand bewaar word vir die ewigheid. Om in hierdie sin die toekomstige stad te "soek", beteken dus vir die gelowige dat hy daarvoor lewe, dat hy alles sal nastrewe wat dit bevorder.

So mag ons veilig voortreis deur die lewe. Te midde van 'n wêreld van verganklikheid dra ons die waarborg van die hemelse geluksaligheid wat sál kom. Ons dra die ewigheid in ons hart.

Gebed: Sterk my, o Here, dat die voortsetting van my lewensreis en die voleindiging daarvan in U Naam mag wees. Amen.

Ds HC de Wet: My tye in U hand

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css