Die Weg

 

Tussen hamer en aambeeld word jy gevorm

Hoeveel is daar wat in hulle nood hulle toevlug by ander gaan soek, wat hulle troos van buite wil kry, wat vir hulle wonde salf en genesing elders wil gaan haal!

Die son dra sy hitte en sy krag in homself; die sterre het hul eie lig; die blom het sy vorm en sy kleur in homself, en die hart dra sy eie krag, sy eie lafenis en sy eie genesing. Die vlees waarin die wond geslaan is, dra die genesing vir sy eie wond. Van buite kan dit nie kom as die alwyse Skepper dinge nie so gemaak het dat die geneeskrag binne is nie. Al wat die heelmeester van buite kan doen, is om die eie geneeskrag te prikkel en te versterk en aan te moedig. Daarom is die hulp wat van buite kom, slegs 'n tweede toevlug en troos. Die vlees wat onwillig is, kan nie van buite kry wat van binne ontbreek vir die genesing van die wond nie, en die hart kan sy nood en sy smart nie op ander aflaai nie.

Dit is menslik om 'n stut en 'n steun te soek wanneer die hart wankel; dit is menslik om te pleit dat die drinkbeker by ons moet verbygaan - daarvoor het ons die groot voorbeeld van Getsemane - maar wat ons van buite kry, kan slegs die eie krag aanvul, maar dit nie vervang nie. In ons beproewing is ons eintlik altyd alleen, en ondanks die troos van ander en die woord van meegevoel, moet ons die stryd alleen stry in die stille uur en in die binnekamer waar ons krag soek by Hom wat die Gewer van alle goeie dinge is. Die donker en die bitter uur is ons s'n alleen.

Wanneer ons getoets word, wen ons aan krag. Dit is die plant wat in wind en weer getoets word wat sterk en stewig staan en sy wortels diep inslaan. Dit is die staal wat uit die vuur kom en wat tussen hamer en aambeeld sy vorm gekry het, wat sterk en betroubaar is.

So ook word die hárt kragtiger met elke beproewing tussen die hamer en die aambeeld, en met elke beproewing weerstaan hy die volgende beter, want tussen hamer en aambeeld kry die vormlose en ongelouterde eers vorm en betekenis. Die litteken wat deur die ou wond gelaat is, is sterker en taaier as die onbeproefde vlees, en die been breek nie maklik 'n tweede keer waar hy reeds aangegroei het nie. Vir dié wat aan die beproewing onderwerp is, is dit swaar, maar dit is hulle wat leer dat hulle daardeur verhef is tot die diens aan 'n GROTER PLAN en 'n GROTER GLORIE. Want wanneer die onbeproefde murmureer, is hy soos klei wat onwillig is in die hande van die ewige Pottebakker en wat sy eie vormloosheid loof omdat hy die groot plan nie ken wat hy geroep is om te dien nie.

Dit is die wonder van die gees dat hy ook in die uur van nood leer hy is anders as die stof, want die stoflike dinge verminder en verswak met gebruik, maar die dinge van die hart was aan en wen aan krag in dié mate dat hulle gebruik word. Daarom vind ons ook in die nederige lewe dié wie se gees groot en sterk geword het deur beproewing, en ook onder die eenvoudiges kry ons die wysheid en die ewewig en die ware begrip wat die vrugte van beproewing is.

In die binnekamer leer ons in die donker uur dat die troos en die krag van binne kom, as genadegawe van God, en ons leer dat ons alleen moet ly om vrugbaar met ander te kan lewe.

Uit: “'n Rusplek langs die pad” deur John van der Berg

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css