Die Weg

 

'n Evangelie om uit te leef

“Wees vlytig in hierdie dinge, leef daarin...... “ 1 Timoteus 4:15

Timotheus ontvang van Paulus 'n evangelie wat hy nie alleen moet verkondig nie, maar wat hy ook moet uitleef. Nie alleen is dit 'n blye boodskap wat ons op God, wat 'n behouder van alle mense is, laat hoop nie, maar ook 'n boodskap oor die krag van God wat ons lewe so verander dat ons vir ander in woord, lewenswandel, liefde, gesindheid, geloof en reinheid 'n voorbeeld kan wees (1 Tim 4:12). Dit werk in ons ook 'n heilige drang om op elke moontlike wyse, in woord en daad, die Verlosser van die verlossingsboodskap, te laat sien.

In al hierdie dinge moet ons vlytig wees. Die geloofslewe is nie die aanvaarding van 'n teorie wat met die daaglikse lewe niks te make het nie, maar die ontdekking van die verlossingskrag van 'n liefdevolle God wat alles nuut kan maak. Die Christen is 'n nuwe skepsel van Jesus Christus, by wie die ou dinge verbygegaan en alles nuut geword het (2 Kor. 5 : 17).

As ons maar net daaroor praat sonder om daarin te leef, sal ons getuienis min oortuigingskrag hê en sal ons eintlik nie weet waarvan ons moet getuig nie. Maar as die krag van God 'n nuwe lewe in ons gewek het, sal ons moeilik kan swyg. Dan ontvang die mense rondom ons 'n dubbele getuienis - een wat gehoor kan word wanneer ons spreek en een wat gesien kan word soos 'n stad op 'n berg, wat nie weggesteek kan word nie (Matt. 5 : 14).

Uit: “Lig en Lewe” onder redaksie van MJ Smuts.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css