Die Weg

 

God is jou veilige vesting

Maar ék sal sing van u mag, elke môre sal ek jubel oor u trou, want U is vir my 'n veilige vesting, 'n skuilplek in tyd van nood” - Psalm 59:17.

In Bybelse tye is stede versterk met 'n muur rondom sodat dit beskerming kon bied, veral aan die vroue en kinders. Die hekke of poorte in die mure kon gegrendel word en dan kon die vyand nie in die mure inkom nie. Dit was 'n vesting.'n Plek waar die inwoners kon skuil teen gevaar.

Dawid bevind hom op die vlug met Saul se soldate op sy spoor. Hulle opdrag is om hom dood te maak. Dawid soek na 'n skuilplek! Hy voel homself weerloos en van alle kante bedreig. Maar dan kyk hy op na God en hy besef: Hy het nie mure rondom hom nodig om hom te beskerm nie.... God is die muur rondom hom; die vesting wat hom omring sodat die vyand hom nie kan raakvat en doodmaak nie. Dadelik bedaar sy ontsteltenis en word hy kalm en moedig soos 'n bang seuntjie wat in sy pa se arms spring en dan veilig en beskerm voel.

Jy voel dalk ook weerloos teen die lewe om jou. Ons lees daagliks van mense wat die prooi van misdaad geword het. Maar ook voel dit soms of ons nie oral kan keer as teëspoed en kritiek op ons afkom nie. Kinders en jongmense voel dikwels dat hulle alleen is in die wêreld en asof niemand hulle verstaan nie.

Sommige mense hardloop van hierdie gevoel af weg na drank en dwelms toe; ander pleeg selfmoord; ander raak verbitterd. Dawid het egter skuiling gevind teen die lewe. Jy kan ook. Net waar jy is, of as dit kan, in jou slaapkamer of 'n stil plek, en kyk op na God ... bid en jy sal bewus word dat Hy jou soos 'n muur omring. Sy Gees sal jou ook kalmte gee en met nuwe moed besiel. Jesus is jou vesting; Hy het die Satan en die dood oorwin. Jou vesting. Vertrou op Hom!

Ds C.J. van Vuuren

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css