Die Weg

 

Om vir die regte redes onthou te word

“Onthou tog wat ek gedoen het, my God! Moet tog nie dat my liefdesdade wat ek vir die huis van my God en vir sy diens gedoen het, vergeet raak nie” - Nehemia 13:14.

Wil jy wegsteek wat jy met jou lewe gemaak het, of wil jy onthou word? Nehemia wou dat sy liefdesdade vir die huis van God onthou word. Daarin lê die verskil. Wanneer ons ons dae deurgebring het met selfsugtige eiediens, wil ons dit liewers nie onthou nie. Ander dinge tog wel. Hoe beoordeel ons ons lewe sonder om ydel te wees?

Die Here het hand aan hand met Nehemia gestap. Hy moes die volk in Jerusalem motiveer, organiseer en lei in die geweldige taak om die vervalle stadsmure te herbou. Van die begin af was hy bewus van sy afhanklikheid van God. Sy dienswerk word een groot gebed-beplan-uitvoer-aksie. Heel voorop staan gebed. Wanneer die werk dan afgehandel is, volg die erkenning dat dit uit God se krag gedoen is.

Nehemia noem dit "liefdesdade vir die huis van God". Nie uit dwang nie, maar omdat hy vir God en Sy huis lief was, het hy sy lewe op diens aan Hom gerig.

As die jare met ons aanstap kan ons so terugkyk op ons lewe en met dankbaarheid herinner word aan die heerlike dinge in diens van God. Hoe wonderlik is dit nie om te onthou dat Hy gebede verhoor het en leiding en krag gegee het om dinge af te handel wat te groot gelyk het nie!

Dan kan ons bid: Here, onthou wat ons gedoen het! Want dit kon ons net doen in nederige liefdesdiens. Nie om vereer te word nie, maar om Hom te vereer. Nie om in die kollig te staan nie, maar om Sy lig te versprei.

Dr Callie Opperman in “God vergeet jou nooit” - Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css