Die Weg

 

Die toets van die geloof

"Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet ... "  - Romeine 8:28 .

Dis net 'n gelowige mens wat werklik insien dat God sy lewe en omstandighede bestuur. Ons neem alles aan as vanselfsprekend en sê dat God in beheer is, maar glo ons dit werklik? Ons tree op asof alles wat om ons gebeur deur mense beheer word. Dan verloën ons ons lojaliteit teenoor die werklike bron van ons geloof - die Here Jesus Christus. Soms mag dit vir ons lyk asof alles om ons in duie stort, en God laat dit ook toe. Dan, wanneer ons geloof getoets word, raak ons ontrou aan Hom en erken ons nie Sy hand in alles wat gebeur nie. Ons kyk nie verder as ons eie situasie nie en sien nooit wat Hy probeer bereik nie. En dit is die ware toets vir ons geloof. As ons net sal leer om God te dien, selfs te midde van moeilike omstandighede, sal Hy dit gou tot ons beswil laat verander as dit is volgens Sy wil.

Om Jesus Christus getrou te volg is blykbaar een van die moeilikste dinge in vandag se lewe. Ons sal getrou wees in ons werk, in ons diens aan ander of enige iets anders; moet net nie vra dat ons aan Jesus Christus getrou moet bly nie. Talle Christene raak geïrriteerd wanneer ons praat van getrouheid aan Jesus. Maar ons Koning, die Here Jesus Christus, word meer dikwels doelbewus deur Christene onttroon, as deur die wêreld.

Ons behandel God asof Hy 'n masjien is wat ontwerp is vir net een doel, naamlik om ons te seën, en ons dink aan Jesus as maar net nog een van die werkers wat in ons diens staan. Dis verkeerd!

Die doel van ons geloof en ons getrouheid aan God, is om Hom toe te laat om Sy werk deur ons te doen. God roep ons tot Sy diens en plaas geweldige verantwoordelikhede op ons. Hy verwag volkome toewyding aan Hom sonder om te kla. Hy is ook geen verduideliking aan ons verskuldig nie. Hy wil ons gebruik sodat Hy verheerlik sal word, waardeur Hy alles vir ons ten goede sal laat meewerk.

Oswald Chambers

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css