Die Weg

 

Tevrede met wat ek is

Soos 'n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind” - Psalm 131:2.

Is daar 'n rustiger prentjie as 'n baba wat in sy ma se arms lê en slaap? Al waai die wind buite of dis pikdonker. So behoort ons ook te kan wees. Tog kan ons so ontevrede wees met ons situasie. Wanneer ons ouer word, word ons liggaamskragte minder, sien ons oë nie meer goed nie en kom ons nie meer by alles uit nie. Dan word ons soms ontevrede, soos 'n kriewelrige baba wat aanhou huil in sy ma se arms.

'n Rede vir so 'n ontevredenheid lê in ons siening van onsself en ons vermoëns. Psalm 131 noem selfverheffing, hoogmoed en besorgdheid oor onbeheerbare dinge. Moenie te veel van jouself dink nie, dan plaas jy te veel druk op jouself. Moet jou nie verhef bo ander nie, want voor God is almal gelykwaardig. Maak vrede met die dinge wat te groot is om self te hanteer. Kommer daaroor gaan niks daaraan verander nie.

Teenoor die drie negatiewe dinge stel die Woord tevredenheid. Dit is moontlik vir elkeen wat in die regte verhouding met God leef. Hy is soos 'n ma vir ons, weet wat ons nodig het, waar ons seer is, hoe groot ons beperkings is. Wanneer jy swakker word weens ouderdom, is God jou sterkte. Jy is geborge in sy huisgesin. Wat meer kan ons begeer?

Moenie meer wil doen as wat jou kragte toelaat nie.

Lê jou toe op daardie dinge waarvoor Hy jou toegerus het. Wie hulleself aan God se sorg oorgee, sal die seën van tevredenheid ervaar.

Dr Callie Opperman in “God vergeet jou nooit” - Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css