Die Weg

 

Was die verlede beter as nou?

Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie; dit is nie uit wysheid dat 'n mens so sê nie” - Prediker 7:10.

Mense wat ongelukkig of teleurgesteld is met hul huidige situasie, is soms geneig om nostalgies terug te verlang na die "kospotte" van die verlede met 'n amper vyandige pessimisme oor die hede. Dan vra hulle: "hoekom is dit so dat dit in die ou dae beter was as nou?". Dis mos ook 'n vraag wat vandag in baie van ons se gemoedere lewe, hier in die "nuwe" S.A. met al sy probleme. Die prediker sê reguit dit is dwaasheid om so terug te verlang na die verlede. Hoekom? Omdat in die hart van so vraag onder andere die volgende probleme is:

* Die vraag is gebore uit 'n stuk pessimisme, 'n negatiwiteit, onvergenoegdheid en ontevredenheid wat nie by 'n gelowige hoort nie (vgl. 1Tess 5:18).

* Jy verheerlik die verlede. Jy kyk al die seer en swaar van die verlede mis en sien eensydig net die positiewe dinge raak en vergelyk dit met die negatiewe van die hede.

* Verder kyk jy al die mooi in die hede mis en sien al die mooi wat die Here gee en vir jou wil gee, veral die feit dat Hy in sy liefde by jou is.

* En jy vergeet dat die Here in beheer van die omstandighede is en dat Hy deur al die dinge heen op pad is na sy heerlike doel met alles. Hy bepaal die uitkoms van alles en gebruik al die skewe en krom dinge as deel van sy plan.

* So 'n negatiewe gesindheid oor die hede en die toekoms verlam jou om in die hede voluit vir die Here te kan lewe. Jy word al meer geneig om op die kant te staan en te kritiseer, in plaas daarvan om die werk te doen wat die Here deur sy woord aan jou opgedra het.

Jy is verlos en bevry deur Jesus Christus. Jy is met die krag van die Heilige Gees toegerus. Kom, of jy oud is of jonk, neem die positiewe en die mooi van die verlede saam met jou. Leef ook met 'n oop, positiewe gemoed in die hede met al sy uitdagings en storms voluit, volhardend en entoesiasties tot eer van die Here. Hy is die Een wat die verlede, hede en toekoms in sy hande vashou - en deur alles heen, ook vir jou!

Dr J.W. Oostenbrink

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css