Die Weg

 

Jou reg om kind van God te wees

“Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van 'n mens of die besluit van 'n man nie, maar hulle is uit God gebore. Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid”. - Johannes 1:9-14.

Het jy die reg om kind van God te wees? Ja!

Wie? Daardie persoon wat vir Jesus aangeneem het, hy wat in Hom glo, het die reg tot kindskap van die Vader ontvang. En dit gebeur teen jou menslike natuur in. Die mense wou Jesus nie aanneem nie. Al het alles deur Hom tot stand gekom, het die wêreld Hom nie erken nie (Joh 1:10). Selfs sy eie mense, diegene uit die verbondsvolk, het Hom nie aangeneem nie (Joh 1:11). Ook jy sou Hom nie aanneem nie!

Hoe kan ek dan die reg hê om kind van God te wees as ek die lig uitdoof? Slegs deur 'n wondergeboorte van God (Joh 1:13). God se Gees verander my sondige natuur, buig dit om, vernuwe dit, sodat ek nie meer wegvlug van die lig nie. Ek draai my rug op die duisternis van 'n goddelose lewe en wil gehoorsaam aan God leef (Joh 3:6,21).

My toegebalde vuiste word deur die Gees oopgeforseer om Jesus as my Verlosser aan te neem. My blinde oë word siende sodat ek die ware lig opmerk. My slap bene word gespierd sodat ek saam met my hemelse Vader kan loop. Ja, my skadulewe word verlig sodat ek nie net die vuil sondekolle sien nie, maar ook die liefde van die vergewende God aanvaar.

Jy het die reg om kind van God te wees; dit is aan jou gegee ten spyte van jouself.

Dr Callie Opperman

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css