Die Weg

 

Wees rustig oor God se toekoms

“En hulle antwoord hom: Ons het ‘n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie. En Josef vra hulle: Is uitlegging nie ‘n saak van God nie? Vertel my tog. .... Hou my tog net in gedagte as dit met jou goed gaan, en bewys my tog ‘n guns en maak melding van my by Farao en bring my uit hierdie huis uit; .... En die voorman van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, maar hom vergeet” - Genesis 40:8-23.

Die toekoms is iets wat net God kan bepaal. Die meeste van ons glo dit seker. Maar dit is nie so maklik om hierdie geloof van ons uit te leef nie. Dit is nie so maklik om die toekoms rustig in God se hande oor te laat nie. Ons het seker almal al planne gemaak en dan werk dit glad nie uit nie. Dit is nie maklik om planne wat ons maak te verander en aan te pas omdat dit nog nie God se tyd is nie.

Josef is onskuldig in die tronk gegooi. Daar sit hy nou al jare en wag dat iets moet gebeur. Toe kom die bakker en die skinker van die Farao ook in die tronk aan.

Voordat Josef hulle drome uitgelê het, lees ons in Genesis 40:8 dat Josef erken dat die toekoms in God se hande is.

Nadat Josef vir die skinker gesê het dat hy sal bly lewe, vra hy egter die skinker in vers 14, om sy saak aan die farao te stel. Hy neem dus die toekoms as't ware uit God se hande en probeer self 'n plan maak.

Josef het gedink dit is die ideale geleentheid vir hom om uit die tronk te kom. Maar dit was nie God se wil nie. Ons lees in vers 23 dat die skinker vergeet het van Josef.

Dit was nog nie God se tyd nie. Josef moes nog ongeveer 2 jaar in die tronk bly voordat die skinker van hom onthou het. Daarna het hy onderkoning van Egipte geword.

God se tydsberekening is altyd reg. God se program is altyd volmaak. God sal laat gebeur wat moet gebeur en wanneer dit moet gebeur. As jou planne nie altyd uitwerk soos wat jy graag wil nie, kan jy nog steeds glo dat God se program deurgaan. Wag geduldig op God se tyd. Dit sal die regte tyd wees.

Ds J.D. van't Zand

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css