Die Weg

 

Die oog op die Wederkoms

Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind.” - Matteus 24 : 46.

Die Here Jesus vertel die gelykenis van die twee diensknegte met die oog op sy wederkoms. Daar is die getroue dienskneg wat op die regte tyd voedsel aan die diensvolk gee. Sy heer kan enige tyd kom en dan vind hy hom getrou in sy taak besig om die voedsel betyds uit te deel. Hy doen dit, of sy heer naby is of nie.

Maar daar is 'n tweede dienskneg wat meen dat sy heer talm om te kom - dat sy heer wegbly. Hy meen dat hy nou in die afwesigheid van sy heer die ander kan mishandel en saam met die dronkaards kan drink. Hierdie tweede dienskneg is in homself nie getrou nie, maar slegs as daar iemand oor hom toesig hou.

Die Here verwag van ons om elke oomblik getrou te wees. Ons getrouheid om te dien moenie afhang van die feit dat mense ons raaksien nie. As ons onthou dat Jesus self ons Here is en dat Hy ons altyd raaksien, sal ons nie maklik ontrou raak nie. Ons moet getrou wees ter wille van die eer van die Here en ter wille van getrouheid self. Ons moet getrouheid aankweek as deel van ons hele lewensbestaan.

So word ons geroep om ook in ons liefde en gehoorsaamheid aan die wil van God getrou te bly. 'n Mens kan soms met baie goeie bedoelings begin om die Here te dien en dan later verflou. Hy roep ons op tot volharding, d.w.s. om elke oomblik getrou te bly.

Hou in gedagte dat die Here Jesus weer kom, dat Hy enige oomblik kan kom. Waarmee wil ons graag besig wees wanneer Hy op die wolke kom? As ons geweet het dat Jesus beslis môre sou kom, sou ons sorg dat ons besig is met wat Hom behaag. Omdat ons nie weet wanneer Hy kom nie en meen dat Hy talm om te kom, verslap ons so maklik.

Leef so asof Hy enige dag kan kom, en bly dan dag vir dag getrou aan Hom. Dien Hom heelhartig asof Hy nou kom.

Gebed: Here, vestig my oë ook op die wolke en hou my gedagtig daaraan dat U aan die kom is.

Uit: Lig en Lewe onder redaksie van MJ Smuts.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css