Die Weg

 

Die mens se einde is God se begin

“En toe Josef by sy broers kom, trek hulle Josef se rok uit, die rok met lang moue wat hy aangehad het, en hulle neem hom en gooi hom in die put. Maar die put was leeg; daar was geen water in nie” - Genesis 37:23-24.

Baie van ons het al in situasies verkeer waarin ons geen hoop meer gehad het nie. Miskien was dit situasies van werkloosheid, huweliksprobleme, siekte of dood van geliefdes. Dan sien 'n mens baiekeer net nie meer kans vir die toekoms nie. Ons lees in Genesis 37 van iemand wat in so 'n situasie was.

Josef is deur sy pa na sy broers gestuur om vir hulle kos te bring en uit te vind hoe dit met hulle gaan. Maar sy broers het nie van hom gehou nie en was jaloers op hom. Hulle het hom uitgetrek en hom in die put gegooi.

Dit lyk soos die einde, nie waar nie. Josef het alles verloor - sy familie, sy klere, sy vryheid, sy waardigheid. Hy het niks meer oorgehad nie. Hy kon op niks meer sy hoop stel nie. Sy broers het gesit en feesvier terwyl hy skree en die kans dat vreemdelinge daar sou verbykom was skraal. As Josef rondom hom kyk, sien hy net die donkerte van die put.

Al wat Josef kon doen was om op te kyk boontoe. Want waar die mens nie verder kan nie, begin God weer opnuut. Ons lees in vers 26 en verder dat Josef uit die put gehaal word, verkoop word as slaaf maar dan later onderkoning van Egipte word. So red die Here deur Josef sy volk. As jy in die put sit met niks om aan vas te hou nie dan is daar nog God se beloftes. Dit verander nooit nie. God bly altyd dieselfde. Hou styf vas aan sy beloftes.

(Word vervolg)

Ds. J.D. van't Zand

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css