Die Weg

 

Wat 'n verantwoordelikheid om oor God se handewerk te heers!

“U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp ...”  - Psalm 8:7.

Hoe groot is die heerlikheid van God oor die hele aarde – en in die sterrehemel.

Ek weet nie hoe lief jy vir die veld en die sterre is nie. Ek kan my  verlustig daarin en my verwonder daaraan. Selfs die veelkleurige motte en skoenlappers, wat weer veroorsaak dat daar baie wurms uitbroei, die lelike koringkriek, slange en jakkalse, laat my verstom staan oor die alwysheid van God, die Skepper van alles. Om nie eers te praat van die verskeidenheid van grassoorte wat vanjaar so welig groei met die groot reën in Namibië nie. Dan gaan my gedagtes na Genesis se eenvoudige beskrywing van hierdie wonder waartussen ons leef elke dag. Toe het God gesê: “Laat daar uit die aarde groenigheid voortkom, groen plante wat saad gee en vrugtebome op die aarde, wat elkeen na sy aard vrugte dra en waarvan die saad in sy vrug sit.” So het dit gebeur. (Gen 1:11). Elkeen na sy aard.

Lees ek egter Psalm 8, krimp my hart ineen, soos ‘n jong man wat as bestuurder oor ‘n groot besigheid aangestel is. Nog min ervaring, maar groot verantwoordelikheid. Die Psalm besing die heerlikheid van God, maar dan word die mens se spesiale rol in verhouding met God en sy skepping uitgelig. “U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp ...” Oor die werk van God se hande, sy magtige, onbegryplike skeppingswerk – is ek en jy aangestel. Bestuurders, bewakers, instandhouers, fluitjieblasers wanneer daar misbruik en besoedel word. Dit is ons verantwoordelikheid.

Dit is so hartseer dat mense, wat nie Bybelgelowiges is nie, soms met meer passie veg vir bewaring van God se skepping. God se kinders behoort voor te loop, die voorbeeld te stel, die regulasies neer te lê en te sorg dat dit nagekom word. Dit raak alles, van rommel rondstrooi, 4x4 op die strand ry, bosse uitkap, oorbewyding, mynbou, impakstudies, uitroei van diere sonder om aan die gevolge te dink. Hoe heers ons oor God se handewerk? ‘n Opdrag wat reeds na die skepping van die mens gegee is, en talle kere herhaal is: “Heers oor die visse in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.” (Gen 1:28).

Kom ons kyk hierdie week met ander oë na God se handewerk, van die kleinste wat ons kan onderskei, tot die grootste in die heelal. Bewonder dit, ja! Maar kom ook jou verantwoordelikheid na om daaroor te heers. Eendag sal ons oor alles voor die regterstoel van God staan.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief 24/3/2014)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css