Die Weg

 

Kyk, Hy kom!

"Kyk Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!" - Openbaring 1:7

Die wederkoms van Christus neem in die toekomsverwagting van die gelowige 'n sentrale plek in. Reeds met sy hemelvaart het die twee Engelepredikers op die Olyfberg die belofte gegee: "Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het" (Hand 1: 11).

Die tekens van die tye wat uitloop op die verskyning en magsoperasies van die Antichris is die klokke wat die koms van Christus aankondig. En voordat Johannes op Patmos dieper inkyk in die eindgebeure, kry hy in hoofstuk 1 die blye boodskap: "Kyk Hy kom!" Christus sit aan die regterhand van die Vader, maar Hy is ook op pad.

Hy sal so anders verskyn as met sy eerste koms. In Bethlehem was sy koms swaar vermom. Hy kom as swakke kind wat in doeke lê. Maar met sy wederkoms val elke vermomming weg, en Hy kom as Koning op die wolke. Almal sal Hom aanskou selfs dié wat Hom deursteek het of weggeredeneer het. Hy sal op die wolke kom, want Hy maak van die wolke sy wa.

Nee, Hy sal nie in weer in vernedering kom nie, maar sal as Oorwinnaar verskyn, beklee met glans en majesteit.

Elke dag moet ons onder die besef leef dat Hy op pad is. Elke uur is Hy nader!

Is ons bly?

Dr B Duvenhage in “Tel die Sterre”.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css