Die Weg

 

Om te kla of te dra

“Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my?” - Psalm 43:5 OAV.

Psalms 42 en 43 is eintlik een psalm. Die klagtes in Psalm 42 vind ons weer saamgevat in Psalm 43.  Dis 'n klagte van Godverlatenheid. Dit lyk vir die digter asof God hom vergeet het: “Ek wil spreek tot God: My rots, waarom vergeet U my?” (Ps 42:10) en “ Want U is die God van my toevlug; waarom verstoot U my dan? Waarom moet ek rondgaan in rougewaad deur die vyand se verdrukking?” (Ps 43:2).

Daar is natuurlik geen sprake daarvan dat God hom vergeet het nie, maar so dink ons mos dikwels as dit met ons moeilik gaan. Dan oorval die moedeloosheid ons, en asof dit nie erg genoeg is nie, wil ons dit nog erger maak as wat dit in werklikheid is. Ons dink dat God ons verstoot het. Dit is ook wat die psalmdigter dink totdat hy weer tot besinning kom en homself regruk. Hy kon nie vir altyd in die neerslagtige stemming bly nie. “Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my?” Hoop op God. Die geloof bring uitkoms!

Ons word nie geroep om te kla nie, maar om te dra. Kla help nie. Die genade van God maak ons sterk sodat ons kan dra en dan bly die “las” nie meer 'n las nie. Brian Hession, 'n leraar van die Church of England, wat self deur die vreeslike diepte van liggaamlike lyding gegaan het (in 1961 oorlede), het dit geïllustreer deur die volgende verhaaltjie te vertel: 

'n Klein meisietjie het haar boetie gedra. Toe 'n verbyganger met haar simpatiseer en sê: “dit is 'n swaar las wat jy dra”, antwoord sy verontwaardig: “dis geen las nie, dis my boetie”  (Dink maar self wat hierdie woorde beteken).

Maar die HEER sal in my lewe
weer oordag sy guns gebied.
Ook deur donker nag omgewe,
sing ek nog my pelgrimslied.
Ja, ek lofsing in die nag,
want ek bly die HEER verwag;
my gebed sal opwaarts strewe
na die bronwel van my lewe. (Beryming Ps 42:5).

Uit: Hij sprak en ik hoorde deur AK Straatsma
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css