Die Weg

 

Lyding en die ewige raad van God

Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red” - Genesis 45:5.

Wanneer Asaf in Psalm 73 worstel met die ongelykheid in die wêreldbestuur van God, vind sy verwarde gemoed eindelik rus in die ewige en onwankelbare raad van God: "Tog was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand. U lei my met u raad en aan die einde sal U my in ere by U opneem.” So skryf Asat (Ps 73:23, 24).

Ten spyte van die ongelykheid, onsekerheid en verkeerdheid van die aardse bestel, gebeur dinge nie maar toevallig nie. Alles word deur die raad van God bestuur. Daar is 'n vaste en onwankelbare plan vir alles (Ef 1 : 11).

Al verstaan die mens in sy nood nie die rede vir sy lyding nie; al kry hy nie altyd 'n antwoord op sy talle vrae nie - is dit goed om te weet: agter alles sit God, wat geen foute maak nie. Die mens is nie aan willekeur uitgelewer nie. God is nie net Skepper nie, maar Hy is ook Onderhouer van alles wat Hy gemaak het. Hy laat vaar nooit die werke van sy hande nie (vgl Ps 138:8).

Somtyds lyk dit so asof God nie omgee nie, asof God nie in staat is om ons te help nie; só asof God Hom van alles en almal onttrek het. Dit ervaar elke mens een of ander tyd in sy lewe (vgl Jes 49:14). Dis juis wanneer een of ander donker wolk oor jou hang; dat jy voel asof jy van God en mens verlaat is; asof jy heeltemal alleen op die ganse aarde is. Dan sê jy ook: niemand gee vir my om nie (vgl Ps 142:5); niemand sal my tog mis nie. En tog - as die wind weer eens die wolk weggedryf het, skyn die son nog steeds daar waar hy gister en eergister was. Die wolk het wel die son uit ons gesigsveld weggeneem, maar die wolk kan die son self nie verwyder nie.

Daar kom byvoorbeeld tye in die mens se lewe dat net 'n dun geloofsdraad jou aan God verbind. Maar dan ondervind ons elke keer dat dit God is wat hierdie draad in sy almagtige hande hou en só sterk maak dat dit nooit kan breek nie (vgl 2 Kon 11 :1-3).

Die Here Jesus kan dus vertel van 'n priester wat op 'n verwonde afgekom het (Luk 10:31). Vir die priester was die ontdekking toevallig; hy het dit nie so beplan nie. Maar vir God was die hele gebeurtenis nie toevallig nie; dit is spesifiek deur God só beplan. Die priester het nie vooraf geweet nie. God het nie slegs geweet nie; Hy het dit ook so gereël!

Toe Josef deur sy broers verkoop is, het hy gely. Sy gesoebat, sy gebede, het alles niks gehelp nie (Gen 42:21). En tog kon Josef later aan sy broers verduidelik: "Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red." (Gen 45:5). Sy lyding was opgeneem in die ewige raad van God. Die hand van God was ook in die gemeenheid van sy broers. Dié wete het die lyding vir Josef draaglik gemaak; dit het die angel uit sy lyding weggeneem. En om dit te weet, is vir ons genoeg.

Uit: Gelouter deur Lyding van Willie Marais (Met die vriendelike toestemming van Aktuapers )
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css