Die Weg

 

Veilig in God se hande – sekerheid na gebed

“Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon” - Psalm 4:9.

Wat ‘n wonderlike geskenk! Om te gaan lê en dadelik aan die slaap te raak, sonder sorge, met die sekerheid dat God sy hand oor ons hou. Ken jy daardie sekerheid? Of is daar dinge waaroor jy besorgd is? Iemand in jou gesin wat trauma beleef, lyding deurgaan, midde in ‘n gesinskrisis is? Lees dan hierdie Psalm aandagtig deur. Dawid het in ‘n moeilike tyd gebid, ernstig en eerlik gebid. Die vrug daarvan is die heerlike belydenis: “Here, U laat my veilig woon!

Die Psalm moedig ons aan om met vrymoedigheid te bid in tye van onsekerheid oor die pad vorentoe, as leuenagtige teenstanders ons pad versper, of watter nood daar ook mag wees.

Dawid roep God aan as die een wat “reg verskaf”. Hy het vyande gehad wat sy eer geskend het, met valsheid en leuens teen hom gestry het. Daarom pleit die bidder om die Here se genade. Hy onthou dat God hom vroeër uit nood gered het, daarom vertrou hy dat Hy dit weer kan doen. Die Here is nie ‘n mens nie, maar kan wonders doen, veel groter as dit waarvoor ons bid.

‘n Duidelike gebedspad word vir ons uitgestippel:

* Vertrou God vir wie Hy is – genadig en bereid om na jou gebed te luister.
* Onthou die verlede toe Hy gered het, van Jesus se kruisdood en oorwinning tot nou.
* Moenie dat ontsteltenis jou in sondigheid laat twyfel nie.
* Dink rustig na – selfs wanneer jy gaan rus moet jy jou gedagtes rig op die Here wat wonders doen.

Soos in Dawid se gebed kan ons gebede ook dieselfde kurwe loop. Van klaaglied in nood tot vaste belydenis oor God in wie se hande ons veilig is.

Moenie ophou bid as die nood jou vasdruk en aan God wil laat twyfel nie. Vertrou op Hom, wat regverdig is. Versterk jou verhouding met Hom, sodat Hy jou sterk maak teen leuens en valsheid.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief 10/2/2014)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css