Die Weg

 

Staan jy? Oppas dat jy nie val nie

En op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie” - Romeine 15:1 OAV.

Daar is 'n bekende spreekwoord wat lui: iemand wat gesond is het nie 'n dokter nodig nie. Dit is wat die Fariseërs ook van hulself gedink het. Hulle het gedink dat hulle ordelike en fatsoenlike mense is wat die wet van God só goed ken dat hulle sommer hulle eie rits van wette kan byvoeg (vgl Jesus se vermaning in Luk 11:46). En natuurlik het hulle nie met “sondaars” gemeng nie. O, die skande om met sondaars gesien te word, wat nog om saam met hulle aan dieselfde tafel te sit! Daarom het hulle ook Jesus verag.

Die Fariseërs het egter die Here van die Wet nie liefgehad nie. Hulle het nie die Here gedien nie, maar die wet, en hulle liefde vir God en die mense het ontbreek. Die godsdiens van sulke mense is  tevergeefs en oppervlakkig en veroorsaak pynlike skade aan God se liefdeswerk om 'n bruidskerk sonder vlek en rimpel vir Hom te vorm. 

Jesus as Verlosser sê sy kind is in, maar nie van die wêreld nie. Die sonde moet gehaat, maar die sondaar moet bemin en bearbei en gered word. Wie deur sonde gestruikel het, mag nie afgekraak en verwerp word nie. Wie as gevolg van sondes in gewetenswroeging worstel, mag nie vertrap word nie. Daarom sê Paulus: “En op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie” (Rom 15:1).  Dan waarsku hy ons ook: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” ( 1Kor 10:12).

'n Mens wat as gevolg van die sonde geval het, word weer deur Jesus Christus opgetel, gereinig en vergewe. Die vraag wat ons moet vra is: dra ons die beeld van Christus? Of die beeld van die Fariseërs? 

Daar is egter maar een Wetgewer en Regter, en dit is Hy wat die mag het om te red en te verdelg. Maar jy, wie is jy om regter te speel oor jou naaste?” (Jak 4:12).

 -dw-

(Met erkenning aan dr P Rossouw in Lig en Lewe)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css