Die Weg

 

Watter troos is daar te midde van onrus in die wêreld?

Die konings van die aarde is in opstand, die leiers span saam teen die Here en teen sy gesalfde en sê: “Kom ons maak ons vry en gooi hulle juk af!”  - Psalm 2:2-3.

Die geskiedenis van die konings van ou Israel is duidelik in die Ou Testament opgeteken. Dit vertel meestal van stryd en gevegte met die heidense nasies van die omgewing. Daagliks is die koning en sy volk gekonfronteer met vyande wat die land en regering wou oorneem. Telkens wanneer ‘n nuwe koning oor die volk aangestel is, het daar nuwe druk van die omliggende konings gekom. Psalm 2 is in so ‘n tyd gedig. Die nuwe koning vra: “Waarom is daar onrus onder die volke, waarom smee die nasies planne?” Maar dan voeg hy ‘n subvragie by “- en dit tevergeefs?

Ook in ons tyd is daar voortdurend oorlog en stryd aan die gang in die wêreld. Nuusberigte is daagliks oorlaai van slegte nuus, van duisende mense wat sterf. Sommige in burgeroorlog, ander in godsdienstige stryd, nog meer in stryd tussen buurlande. Dit lyk of daar geen einde gaan kom aan oorloë nie. Dan kan ons ook vra: Is dit nie tevergeefs nie? Watter troos is daar vir my en jou, wat nie direk deel van so ‘n oorlog uitmaak nie? Watter hoop is daar dat daar tog eendag ‘n goeie einde aan alles sal kom?

Psalm 2 maak ons oë oop dat die stryd teen die koning van Israel om meer gegaan het: “Die leiers span saam teen die Here en sy gesalfde”. Die koning van Israel is deur die Here gesalf, aangestel, om oor sy volk te regeer. Daarom was die stryd nie net teen die menslike koning nie, maar veral teen die Here. As daar dan troos of hoop gesoek word, kan die groter prent oopgesprei word. Dan word God se beslissing afgewag en nie net in die daaglikse uitslag van gevegte vasgekyk nie.

Watter uitkoms wys die Here deur hierdie Psalm aan?
   * die Here lag uit die hemel en spot met die nasies en hulle leiers
   * Hy wys sy woede oor hierdie leiers en jaag hulle op loop
   * die koning word die seun van die almagtige God genoem
   * die koning is deur die Here gesalf om te regeer
   * die leiers van die nasies moet ‘n keuse maak: dien die Here, aanvaar die gesag van die gesalfde koning, of verwag die oordeel van God.

Daarin het die koning van Israel sy troos gevind. Die stryd is nie maar tussen mense nie, nie tussen nasies nie. Vir die volkere van die wêreld geld dieselfde as vir die individu (vgl Psalm 1). Wie die Here bly dien, sal deel in sy oorwinning. Wie teen Hom in opstand bly en goddeloos hulle eie pad loop, sal uiteindelik vernietig word.

In Psalm 2 vind ons ook die troos van die Seun van God, die Gesalfde, Jesus Christus. Aan Hom is alle mag in die hemel en op aarde gegee. Hy bepaal die uitkoms van alle stryd op aarde.

Wees gewaarsku: Wie teen Hom stry, sal uiteindelik vernietig word.

Wees getroos: Wie in geloof saam met Hom stry, sal deel in sy oorwinning.

Moenie ontstel word deur tevergeefse stryd van grootpraters nie. God bepaal die oorwinning.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief 27/1/2014)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css