Die Weg

 

Daaglikse vertroue

"Toe sê die HERE vir Moses: Kyk, Ek sal vir julle brood uit die hemel laat reën; dan kan die volk uitgaan en die dagmaat van elke dag insamel, sodat Ek hulle kan beproef, of hulle in my wet sal wandel of nie" - Eksodus 16:4.

Dit was sekerlik vir baie van die Israeliete nie duidelik waarom hulle net genoeg manna vir 'n enkele dag (behalwe die dag voor die sabbat) moes insamel nie. Waarom kon hulle nie maar genoeg vir 'n paar dae optel en wegbêre nie? Dit sou tog immers 'n gevoel van sekuriteit gegee het, want sê nou maar net dat daar die volgende dag geen manna was nie!

Maar God laat nie toe dat die volk op hierdie manier te werk gaan nie.

Hy wou hulle leer om elke môre opnuut te wag op sy versorging, om elke dag uit sy hand te leef. 'n Mens leer alleen dán op God vertrou wanneer jy afhanklik bly van sy genade. Daarom leer die Heiland ons bid: "Gee ons vandag ons daaglikse brood", met ander woorde, dit wat ons vandag benodig! Hy sê ook aan sy volgelinge: "Kwel julle dus nie oor mêre nie, want móre sal hom oor sy eie dinge kwel" (Matt. 6: 34).

Voel ons nie maar ook so nie? Ons wil sekerheid hê oor die dag van môre, en oormôre en vir die jaar wat voorlê. Ons wil so graag eers die einde van die pad sien voordat ons dit waag om op die pad te loop. Ons word egter geroep om Christus één tree op 'n slag te volg en om elke dag dié tree agter Hom aan te gee. Ons gesindheid moet wees:

Lig my tog voor, dis nie dat ek begeer
om ver te sien, net stap vir stap o Heer.

Ds D du Toit in Lig en Lewe.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css