Die Weg

 

Laat die Here jou lei

"Ek sal blindes lei op ‘n weg wat hulle nie ken nie, hulle laat loop op paaie wat vir hulle onbekend is; Ek sal die duisternis lig maak voor hulle uit en die hobbelagtige plekke gelyktes. Dit is die dinge wat Ek doen en nie nalaat nie” - Jesaja 42:16 OAV.

Watter grenslose genade is dit dat ons 'n barmhartige God het wat ons in ons “blindheid” wil kom lei!

Daar is geen manier waarop 'n blinde self nuwe weë kan vind nie, en selfs al sou die pad bekend wees, moet hy maar versigtig wees om nie te struikel nie. Daar is dus geen sprake van om op 'n onbekende pad te wil loop nie.

Die mens is van nature blind vir die weg van heil. Tog lei die Here ons op hierdie weg. Hy lei ons na Hom toe en maak ons oë vir ons oop. Wat die toekoms betref is almal van ons blind en kan selfs nie sien wat oor 'n enkele uur kan gebeur nie. Maar die Here wil ons lei, tot aan die einde van ons pelgrimsreis hier op aarde. Daarom loof ons sy Naam!

Wanneer alles vir ons uitermate donker is sodat uitkoms en redding vir ons onmoontlik lyk, weet Hy watter weg vir ons die beste is en lei Hy ons daarop.

Gelukkig is dié wat hul hand in die groot hand van ons Leidsman plaas en hul weg en hulself aan Hom oorlaat. Hy ken die weg. Wanneer Hy ons tuisgebring het en ons oë oopgaan, sal ons kan terugkyk op die weg waarlangs Hy ons gelei het en weet dat dit reg was. Watter danklied sal ons dan nie vir die Here sing nie!

Gebed: Here lei my, U arme blinde kind, vandag, want ek weet self nie die weg nie.

Charles Haddon Spurgeon.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css