Die Weg

 

2013 - 'n Pad sonder struikeling?

Luister, my seun, en aanvaar wat ek jou sê; ... As jy loop, sal daar niks in jou pad wees nie, en as jy hardloop, sal jy nie struikel nie” - Spreuke 4:10,12

Die einde van die jaar is die voltooiing van nog ‘n stukkie van jou lewenspad. Daar kom dinge op ons pad waaroor ons geen beheer het nie. Dit hanteer ons met die krag en genade van Bo, so goed as wat ons kan. Maar vir die grootste deel van die pad is dit ons eie keuses wat bepaal waar ons ons aan die einde van jaar bevind. Kyk ons terug met ‘n tevredenheid, met hartseer, met skaamte, met teleurstelling, of met ‘n gevoel van dankbaarheid?

Wanneer ek terugkyk op my treë die afgelope jaar, besef ek opnuut: Jou lewenspad se roete en eindpunt is baie sterk aan jou verhouding met God verbind. Ons Vader in die hemel wil ons graag die regte pad laat loop. Die Psalmdigter bely: “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad” (Ps 119:105).

Met die  lees van Spreuke 4 plaas ons onsself in die posisie van die seun, met God as ons Vader. "Luister, my seun, en aanvaar wat ek jou sê; ... As jy loop, sal daar niks in jou pad wees nie, en as jy hardloop, sal jy nie struikel nie" (Spr 4:10,12). ‘n Opdrag met ‘n belofte ...

Die opdrag: Aanvaar wat ek sê! Moenie net hoor en dit ignoreer nie. Pasop om nie afgestomp te raak oor wat jy in die Bybel lees nie. Stuur weg van die gesindheid om beterweterig te wil wees. Daar is ‘n tendens onder ons om die Bybelse waarhede te bevraagteken, om dit as verouderd te beskou. Ons pas ons pad aan by die gemeenskap se norme, soms met baie slegte gevolge.

Die belofte: Ons hemelse Vader beloof ‘n wenpad as ons “aanvaar wat Hy sê”. Dan sal daar niks in jou pad wees nie, jy kan selfs hardloop sonder die vrees om te struikel.

Sonder die wysheid van God is die lewenspad ‘n gesukkel: "die pad van die goddeloses is soos die donker: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie" (Spr 4:19).

Die afgelope jaar was vol keuses, in ons persoonlike verhoudinge, by die werk, as deel van ‘n gemeente, waar ons aan aktiwiteite van die gemeenskap deelgeneem het. Hoe was jou ervaring? ‘n Pad vol struikelblokke of ‘n pad sonder hindernisse? Het jy teenstand ervaar vanweë gehoorsaamheid aan die Woord, of juis omdat jy nie wou aanvaar wat jy by die Here gehoor het nie?

Kom ons aanvaar wat ons Vader ons leer – tot Sy eer en ons seën!

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief 25/11/2013)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css