Die Weg

 

Het ons lewe enige sin? (1)

En hy het gegaan en homself uitgehuur aan een van die burgers van daardie land, en dié het hom na sy lande gestuur om varke op te pas”- Lukas 15:15 (Direkte vertaling).

Ons het gister gepraat oor angs vir die lewe wat verband hou met die sin van die lewe. Daar is geen beter voorbeeld om die vraag na die sin van die lewe te beantwoord as die gelykenis van die verlore seun nie (Lukas 15). Daar is 'n baie dieper waarheid agter hierdie gelykenis as 'n blote sedeles.

Ons ken die gelykenis van die jong man wat sy erfporsie vra en na die onbekende vreemde vertrek. Waarom wou hy eintlik sy ouerhuis verlaat? Het hy dit gedoen om homself te probeer vind? Soms is dit nodig dat 'n mens jou eie koers inslaan voordat jy jouself sal vind, al is dit deur skade en skande heen. Tuis, in sy ouerhuis, moes hy altyd doen wat sy pa en die gesinsverband van hom verwag het. Hy het ingeperk gevoel. Hy wou vry wees om te doen wat hy wou, wanneer hy wou. 'n Mens kan ook sê hy het weggegaan om die vryheid te leer ken. En hierdie vryheid, waar hy net “homself” kon wees, het vir hom tog so belowend en aanloklik gelyk!

Maar nou vertel die verhaal vir ons iets om oor na te dink. Dit sê dat hy al sy goed met onegte vriende en twyfelagtige vroue deurgebring het. Hy het vryheid gesoek, maar het gou gevind dat hy 'n slaaf geword het van sy drifte en van Mammon (die geldgod) waarmee hy sy hartstogte laat botvier het. Hy was allermins vry. Hy was op 'n ander manier gebind. En hierdie gebondenheid was verskrikliker as alles wat hy eenmaal as huislike gebondenheid verwerp het.

Wat het gebeur? In plaas van om homself te vind, hy homself verloor! Hy het gedink dat hy homself in die vreemde sou kon verwesenlik. Maar het hy deur hierdie “selfverwesenliking” in die vreemde 'n “beter ek” geword? Het sy “beter ek”, sy idealistiese motiewe, daar tot uiting gekom? Dalk het dit. In elk geval het met die ontwikkeling van homself ook die donker kante van sy wese na vore getree: sy drifte, eersug en wellus. En daarvan het hy 'n slaaf geword. Hy is daarna deur almal verlaat sodat hy hom uiteindelik tussen die varke bevind en uit varktrôe moes eet. Sy idealistiese soeke na vryheid was verpletter.

Maar kyk nou mooi. Terwyl hy daar in die ellende van sy knegskap sit, verlang hy na die vryheid wat hy as kind in die ouerhuis geniet het. Nou besef hy eers dat dít werklike vryheid was. Ja, en hy weet nog meer, dat vryheid nie bandeloosheid en ongebondenheid is nie, maar dat vryheid 'n besondere vorm van gebondenheid is. Vryheid het ek net as kind van my vader. Vryheid het ek net as ek in ooreenstemming, in harmonie, met my oorsprong lewe. En as hy dan besluit om terug te keer, is dit met die glans van hoop.

Hierdie verhaal gee vir ons een antwoord op die vraag na die sin van die lewe. In sy soeke na homself moes die verlore seun ná al die dwaalweë waarop hy beland het, agterkom dat hy homself eers weer by sy vader kon vind. En nou moet ons dit op onsself toepas, want die sin van die lewe ontdek ek eers wanneer ek ten uitvoer bring (verwesenlik) waarvoor ek geskape is, naamlik om eerstens kind van God te wees. Ek kan myself net vind en verwesenlik wanneer ek my kindskap besef en wanneer ek in harmonie met my oorsprong, naamlik God, leef. Andersinds sal ek myself verloor.

(word vervolg)

Uit: Der Christ im Ernstfall – Helmut Thielicke (verkorte verwerking)


 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css