Die Weg

 

Aanvaar uitdagings!

Hy het vir my gesê: “Mens, Ek stuur jou na die Israeliete toe, 'n opstandige nasie wat teen My in opstand gekom het ... Maar Ek maak jou net so onversetlik as wat hulle is, jou kop net so hard ... “ - Esegiël 2:3; 3:8.

Die Here kom na die profeet Esegiël met 'n geweldige uitdaging: hy moet gaan praat met 'n volk wat nie wil luister nie. Hy moet God se woord gaan bring aan 'n volk wat hulle teen die wil van die Here verset. Hy moet met 'n volk gaan praat wat nie na die Here wil luister nie. Hoe sal hulle dan na 'n mens luister? Esegiël se opdrag was dat hy met hulle moet praat, of hulle nou na hom luister of nie! In die proses, sê die Here, sal Esegiël naderhand net so hardekop en onversetlik raak as wat die volk is!

'n Geweldige uitdaging! Sou Esegiël dit aanvaar? In die werk wat hy sou doen, in sy prediking en profesieë, sou hy baie seerkry. Dikwels is hy emosioneel verpletter deur die gebeure in sy land en die aanvalle wat die volk op hom gemaak het. Tog was daar veel vrug op sy arbeid! Sy profesieë het bewaar gebly vir duisende jare. Dit het gelowiges se harte versterk en God se wil aan hulle bekend gemaak.

As jy die mens wil word wat God bedoel het jy moet wees, dan sal jy op jou lewensweg die uitdagings moet aanvaar wat God oor jou pad bring. Dis nie nodig om roekelose en gevaarlike kanse te waag nie. Aanvaar die uitdaging van 'n nuwe taak,'n nuwe roeping, 'n deur wat die Here vir jou oopgemaak het! Aanvaar die uitdaging om vir die Here 'n getuie te wees en sy Woord te verkondig! Aanvaar die uitdagings van jou lewe!

Deur weg te deins van uitdagings, kan jy nie groei en sterk word nie. Uitdagings bring die beste in jou na vore en leer jou om na die beste van jou vermoë te presteer.

Uit: Leef in weelde – Ampie Barnard. Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css