Die Weg

 

Waar lê jou hoop?

Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. ...  Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê..... Hy sal ons van die verganklikheid bevry. Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat 'n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding” - Romeine 8:18-15.

In hierdie gedeelte getuig Paulus van die geweldige bron van krag in die lewe van 'n Christen. Hoeveel mense word nie platgeslaan deur lyding wat een of ander tyd oor elkeen se pad kom nie? Beproewinge kan mense verlam en geestelik breek. Maar ons vind ook dat andere juis weer deur die beproewinge ryper en kragtiger geword het.

Daar is getuienis van baie mense wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog die konsentrasiekampe (strafkampe) as ongelowiges binnegegaan het. In hierdie uiterste lyding het hulle in hulle nood tot God geroep waardeur hulle geloof en krag ontvang het om deur die donker tye te kon kom. (*)

Andere het hierdie hel binnegegaan met hulle gewoonte godsdiens, hulle kerklike agtergrond, en tog het hulle in smart en verbittering omgekom. In hulle angs en nood kon hulle nie by God uitkom nie, vir hulle het dit voorgekom asof God nie bestaan nie. (**)

Voordat die beproewings kom, is dit nodig om met jou hele hart te besef dat die lyde van hierdie wêreld nie opweeg teen die heerlikheid wat aan die kom is nie. Wie werklik sy knieë voor God buig en Hom met sy hele lewe dien, leer om te leef uit die onverganklike hoop dat God in alles die laaste woord spreek.

Paulus sê dat die hele wêreld hom in barensnood bevind. Wat hy toe reeds gesê het, is ook nou die vreeslike werklikheid. Miljoene mense leef sonder hoop in hierdie wêreld. Maar wie sy vertroue op Jesus stel, word vervul met 'n onverwoesbare hoop en hulle wag met volharding op die oomblik dat die laaste basuin sal weerklink. Dan sal wat sterflik is, onsterflik word en sal hulle wat in Hom glo, hulle in sy koms verheug.

Uit: Niet alleen van brood .... Bijbels dagboek voor vreemdelingen (Aangepas).

(*) Sien ook die boodskap:  “Heila, hola, moenie moed opgee nie

(**) Sien ook onder “Brokkies” op die webwerf: “Behou jou morele en spirituele waardes
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css