Die Weg

 

Op wie stel jy jou vertroue?

“Teenoor Hom is al die bewoners van die aarde soos niks; Hy doen soos Hy besluit met die hemelse magte en met die mense op aarde. Daar is niemand wat Hom daarvan kan weerhou en vir Hom kan sê: ‘Wat doen U?’ nie” - Daniël 4:35.

Die mens het só hoog geklim. Sy kennis reik reeds só ver, en dit sal nog verder uitbrei. Meet hy nie reeds die afstand tussen die sterre nie? Pyl hy nie die diepste dieptes van die see nie? Kan hy nie waarneem wat kleiner is as klein nie? Het hy nie reeds die geheime en reëls wat die natuur beheer, ontdek nie? Meen hy nie dat hy sy heerskappy oor die natuur kan vergroot en die toekoms kan voorspel, sodat hy koning oor alle dinge kan wees en geen mag buite homself nodig het nie? Watter paradystoestand kan daar nie in die toekoms verwag word nie? Die mens sê hy het God nie meer nodig nie. En, sê die mens: ás God bestaan, moet jy jou dan nog oor Hom en Sy Woord bekommer?

Maar dan bring God heersers en volke in verwarring. En wat kan hulle doen? Hulle verwoes, vermoor en bring skrikwekkende ellende oor die mense, sodat in plaas van 'n gelukstaat op aarde, ondergang en vernietiging die aarde se voorland is.

Wie kan met al sy goedbedoelde pogings kom waar hy wil wees? Teenoor God is al die bewoners van die aarde soos niks. Beperk is sy kennis. Klein is sy krag. Verdorwe sy hart. Hy is slegs daar omdat God hom daar geplaas het. En hy bly nie langer op aarde as wat sy Skepper dit veroorloof nie. En al wat hy is, is hy alleen omdat God dit toelaat. Hy is vir alles volkome afhanklik van Hom wat hom geskep het. Daarbenewens is hy, ondanks sy eie waan en voorgee van sy eie grootsheid en voortreflike geaardheid, deur en deur sondig in sy bedoelings en dade.

Wat ons in die wêreld sien is wat die Psalmdigter uitdruk met hierdie woorde: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan. Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op die HERE sy God, wat hemel en aarde gemaak het, die see en alles wat daarin is; wat trou bly tot in ewigheid” (Ps 146:3-6 OAV). “Immers is die gewone mense ydelheid, en die hoë mense is leuens; in die weegskaal geweeg sou hulle saam ligter wees as ydelheid”. (Ps 62:10 Nederlandse Statevertaling en King James vertaling).

Solank as die Here die mens dit toelaat en Hy die mens met Sy gawes verryk, wil dit voorkom asof die mense groot, kundig, bekwaam en tot alles in staat is. Soos wat hulle vermoëns hierdeur groei, styg hulle eie selfbeeld. Uiteindelik sê hulle soos Nebukadnesar: “Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ‘n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie?” (Dan 4:30 OAV). Maar dan kom daar ander tye. “Terwyl die woord nog in die mond van die koning was, val daar ‘n stem uit die hemel: Koning Nebukadnésar, jou word aangesê - die koningskap word jou ontneem; en hulle sal jou uit die mensdom verstoot, en jou woning sal saam met die diere van die veld wees; hulle sal jou plante laat eet soos die beeste, en sewe tydperke sal oor jou heengaan, totdat jy erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil” (Dan 4:31-32 OAV).

“Want ‘n dag is daar vir die HERE van die leërskare oor al wat trots en hoog is, en oor al wat verhewe is, sodat dit verneder kan word..... Dan sal die hoogheid van die mense neergebuig en die trotsheid van die manne verneder word; en die HERE alleen sal in dié dag verhewe wees. En die afgode sal geheel en al verdwyn. En hulle sal gaan in die spelonke van die rotse en in die gate van die grond vanweë die skrik van die HERE en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil, as Hy Hom gereed maak om die aarde te verskrik...... Laat staan tog die mens wie se asem in sy neus is; want hoe min is hy werd!” (Jes 2:12, 17-19, 22 OAV)

Plaas jy jou vertroue op mense?

Moet op prinse nie vertrou nie,
by wie niemand heil kan vind
op die mens jou hoop nie bou nie;
want as God hul gees ontbind,
keer hul na die aarde weer
en hul raadslag stort terneer.

Salig hy wat in die lewe,
sonder hulp en sonder raad,
as hom alles wil begewe,
vlug tot God, sy toeverlaat;
en ook in die swartste nag
op die HERE alleen bly wag
(Ps 146:2-3 beryming).

Uit: Schrift Overdenkeningen - Dr S Greijdanus (Effens aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css