Die Weg

 

Luister na goeie raad - dit gee wysheid!

My seun, hou gerus maar op met luister na wat jou geleer word as jy jou nie wil steur aan verstandige raad nie” - Spreuke 19:27 NAV.

Dit klink amper soos ‘n pa van ‘n hoërskoolseun (of van ‘n student) wat aan die woord is wanneer ons die spreuk lees: “My seun, hou gerus maar op met luister na wat jou geleer word as jy jou nie wil steur aan verstandige raad nie”.

Dit beklemtoon die tema van die hele Spreukeboek, dat wysheid te vind is wanneer ‘n mens jou inspan om dit te kry. Daarom is daar altyd twee partye betrokke: Die een wat die wysheid uitdeel en die een wat hoor. Maar nou kan ‘n mens hoor en hoor, maar nie regtig luister nie. Dan sal jy ook nie groei in jou kennis nie.

Die geneigdheid by die jonger geslag is dikwels om die kennis en ervaring van die ouer geslag te minag. Dit word as outyds en sonder waarde afgemaak. En tog besef ‘n mens later dat hulle kennis onskatbare waarde het. Daarom is dit so belangrik dat ‘n mens nie net sal hoor nie, maar ook sal luister en toepas wat jy geleer het. Jy het ‘n groot verantwoordelikheid wanneer jy die hoorder is. Jou gesindheid bepaal of jy onverstandig bly en of jy groei in wysheid.

In ons verhouding met die Here God geld dieselfde: Hoor en luister en doen moet saam funksioneer. So baie keer hoor ons wat die Woord leer, maar ons gehoorsaam dit nie. Dan bly ons dwaas en slenter ons voort op die pad van die dood.

Daarom leer die Wysheidsboek ons: Moenie maak of jy luister nie. Dan kan jy net sowel ophou luister. Dit het geen waarde as jy jou nie steur aan die verstandige raad nie.

Luister vandag,
 ->   veral na die Woord van die Here,
 ->  maar ook na almal wat deur Hom gebruik word om jou op die pad van wysheid te begelei.

Spyt kom altyd te laat!

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief 14/10/2013)

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css