Die Weg

 

Om te wandel met God

Die regverdige vind sy roem in sy gewete
en nie uit die mond van mense nie.
Die regverdige se blydskap is uit God in God
en sy vreugde lê in die waarheid.

Wie streef na ware en ewige heerlikheid
is nie gesteld op tydelike eerbetoon nie.
Wie wêreldse eer hoog ag,
 - dit nie van harte minag -
bewys sy min liefde vir die hemelse heerlikheid.

'n Groot sielerus het hy,
wat hom nóg oor lof nóg oor blaam bekommer.
Hy wie se gewete suiwer is,
by hom is daar tevredenheid en rus.

Jy word nie heiliger as jy geprys word,
of slegter as jy beledig word nie.
Jy is wie jy is,
en die mening van mense kan jou nie groter maak as wat jy in God se oë is nie.

Gee meer ag op jou hart, jou innerlike self,
dan sal wat mense van jou sê, jou nie kwets nie.
Want die mens sien aan wat voor oë is,
maar die HERE sien die hart aan
(1 Sam 16:7).
Die mens oordeel volgens wat hy sien, maar God weeg die bedoelinge van die hart.

Om altyd goed te doen en beskeie oor jouself te dink
is die kenmerk van 'n nederige hart.
Om nie jou troos in die wêreld te soek nie,
is  die teken van suiwerheid en innerlike vertroue.

Wie geen erkenning van buite vir homself soek,
vir hom is dit duidelik, hy het homself volkome aan God oorgegee.
Want die man wat die proef deurstaan het,
is nie die een wat homself prys nie, sê Paulus,
maar die een wat deur die Here geprys word (2 Kor 10:18).

Om innerlik te wandel met God,
en uiterlik deur geen begeerte gebind te wees,
dit is die aard van die geestelik lewende mens.

Uit: Die navolging van Christus  – Thomas Á Kempis (1380 – 1471)
(Vertaal deur Die Weg).

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css