Die Weg

 

Inspanning ter wille van 'n sekere einde

Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus” - Filippense 3:14.

Hierdie tyd van die jaar hoor ‘n mens dikwels: “Sjoe, my kragte is min en die werk baie. Hoe gaan ek alles klaarkry voor die einde van die jaar?” As die son warmer word en die somerreën is nog nie daar nie, is die energie nog minder. Jaarprogramme vir 2014 moet gefinaliseer word, maar ‘n mens is emosioneel uitgeput van 2013 se wedloop.

Soms voel ons ook so moeg en mat in ons geestelike lewe. Ons stry teen die sondige natuur, ons veg teen die invloed van die Bose in die gemeenskap, ons probeer ‘n Christelike invloed uitoefen by die werk, in ons gesinne word die vaandel van Christus hooggehou. Maar alles vra geesteskrag. En dan beleef ons ‘n insinking in ons motivering. Jy voel alles is net te veel.

Daarom is die aanmoedigende voorbeeld van die apostel Paulus in Filippense 3 so tydig. Daar is drie dinge wat vir my uitstaan in hierdie hoofstuk: Die kragbron vir die inspanning om die wenstreep te bereik, die vreugde van sekerheid in Christus en die verantwoordelikheid om jou roeping te beantwoord.

* Kragbron vir die geestelike stryd

Onthou dat ons geestelike krag in Christus lê. Hy het ons reeds syne gemaak (Filip 3:12). Ons kragbron lê nie in ons inspanning nie, nie in ons goeie lewe, of ons afstamming van goeie Christene nie, ook nie in ons roem om deel van ‘n spesifieke kerk of teologiese groepering te wees nie! Alles is waardeloos in vergelyking met die ewige waarde van Christus se liefdesdaad om ons syne te maak!

* Die vreugde van sekerheid in Christus

Wanneer ons op 'n laagtepunt is en ons eie swakheid beleef, is ons soveel meer bewus van wie Jesus Christus is en wat Hy vir ons beteken. Geloofsekerheid is geanker in wat Hy vir ons gedoen het. Om ons “syne te maak”, moes Hy 'n vernederde mens word, ly vir ons sondeskuld en van God verlate word. Hy het as oorwinnaar opgevaar hemel toe. Watter dankbare vreugde kom daar nie in ons harte wanneer ons sy liefde onthou nie? Dit gee krag vir elke dag, want ons is vir seker sy eiendom.

* Verantwoordelikheid om op ons roeping te antwoord

Omdat ons die ware kragbron het en deur die geloof in Christus vrygespreekte kinders van God is, weet ons waarheen ons met Hom op pad is. Dan kan ons nie anders as om ons “in te span om die wenstreep te bereik” nie. Dis geen vergeefse inspanning nie. Die hemelse prys wag omdat Christus reeds die wedloop voltooi het. Ons verantwoordelikheid is om alles te gee – die vreugde sal nie uitbly nie!

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief 30/09/2013)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css