Die Weg

 

Onthou jou kindskap

“Nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.” - Habakuk 3:18.

Wanneer teëspoed in jou lewe toeslaan, is dit moeilik om optimisties en opgeruimd te wees. 'n Gevoel van wanhoop eerder as hoop is gewoonlik die begeleier van swak gesondheid, droefheid, teleurstelling en finansiële terugslae. 'n Mens is dan maklik geneig om 'n gevoel van hulpeloosheid en pessimisme ten prooi te val. Die aftakelende gevolge van sulke gevoelens is by hulle wat lyding verduur maar té goed bekend.

Ten spyte van hoe haglik die toestande ook mag wees, moet jy nooit die feit uit die oog verloor nie dat jy 'n kind van God is, dat Hy jou liefhet, vir jou omgee en vir jou sorg. Jesus Christus is gedurig besig om jou van hierdie heerlike feit te verseker terwyl Hy jou steeds intiemer bewus maak van die omsluiting van die liefde van jou hemelse Vader. Aan die kruis het Hy bo alle twyfel bewys wat die omvang van daardie onpeilbare liefde is. Hy het gesterf sodat jy weer hoop, lewe en verlossing mag smaak.

As jy besig is om deur 'n moeilike tydperk te gaan, onthou onder alle omstandighede dat jou Vader in Jesus Christus, dit volkome verstaan omdat Christus ook pyn en teleurstelling verduur het. Onthou dat Hy van God verlate gevoel het, sodat ek en jy nooit weer deur God verlaat sal word nie. Moet nooit die feit uit die oog verloor dat sy liefde vir jou geen grense ken nie. Niks in die tyd of die ewigheid kan jou van sy liefde skei as jy waarlik sy gehoorsame kind is nie.

Hou vas aan hierdie sekerheid soos 'n drenkeling aan die reddingsgordel vashou. Plaas jou vertroue in Jesus Christus - dan sal jy jou teëspoed kan verwerk en daarby kan sê: "Nogtans sal ek jubel in die HERE."

Gebed: Troue Leidsman, ek soek 'n hand wat sterk is in die duister, want ek is swak en hulpeloos soos 'n kind. Dankie dat U my hand gevat het. Amen.

Solly Ozrovech in: “Toegewy aan God” - Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css