Die Weg

 

Ons priesterlike roeping

So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel, aan al die ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel in ballingskap weggevoer het: Bou huise en woon, en plant tuine aan en eet die vrugte daarvan; neem vroue en verwek seuns en dogters, en neem vroue vir julle seuns en gee julle dogters aan mans, dat hulle seuns en dogters baar; en vermenigvuldig daar, en moenie verminder nie; en soek die vrede van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, en bid daarvoor tot die HERE; want in die vrede daarvan sal julle vrede hê. Want so spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Laat julle profete en julle waarsêers wat onder julle is, julle nie bedrieg nie, en luister nie na julle dromers vir wie julle laat droom nie. ..... Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee. Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart. En Ek sal My deur julle laat vind, spreek die HERE, en julle lot verander en julle versamel uit al die nasies en uit al die plekke waarheen Ek julle verdryf het, spreek die HERE; en Ek sal julle terugbring na die plek vanwaar Ek julle in ballingskap weggevoer het.” - Jeremia 29: 4-14 OAV.

God het Israel herhaaldelik deur Sy profete gewaarsku dat as hulle nie na Hom luister nie en op ander gode vertrou, hulle nie langer in die Beloofde Land sou kon woon nie, maar onder ander volke verstrooi sou word. Ons lees dit alreeds in die uitspraak van Moses in Deuteronomium 28, nog voordat die volk die Beloofde Land binnegetrek het: “En die HERE sal jou verstrooi onder al die volke, van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde; en daar sal jy ander gode, hout en klip, dien, wat jy en jou vaders nie geken het nie” (Deut 28:64). Eeue later het onder andere ook die profete Jesaja, Jeremia en Miga die straf oor die volk aangekondig. Die volk het egter die waarskuwings in die wind geslaan en gedink dat dit nooit sou gebeur nie.

Uiteindelik is die profesieë vervul: die koning en die belangrikste mense is na Babel weggevoer en die heilige stad Jerusalem het 'n puinhoop geword (2 Kon 24). Die eens magtige volk uit die tyd van Dawid en Salomo is voor al die volke verneder. Die boodskap van die HERE was duidelik: “Ek maak hulle tot iets waarvoor al die koninkryke van die aarde sal skrik: onder al die nasies waaronder Ek hulle sal verstrooi, sal hulle naam gebruik word wanneer mense ander wil vervloek, wil bang maak, wil beledig of wil verneder” (Jer 29:18 NAV).

Maar alhoewel die straf oor die volk voltrek is, en dit vir die volk gelyk het asof die HERE Hom aan hulle onttrek het, gee Jeremia aan die ballinge die woord van die HERE om met hulle saam te neem. Hy het hulle wel hard gestraf, maar nie vergeet nie! Dit herinner ons sterk aan die gebeure in Genesis 3.

Hoeveel keer het ons nie ook die gevoel dat die hemel vir ons gesluit is en dat God Hom van ons onttrek het nie? As ons heel eerlik moet wees, dan besef ons dat ons niks anders verdien as om soos ballinge te lewe nie, vér van die aangesig van God af.

Maar in ons eie sonde-ballingskap soek God ons nog steeds op. Hy het vir Jesus gestuur, groter as al die profete van die Ou Testament. En al leef ons nog as vreemdelinge hier op aarde (1 Pet 2:11) is Hy vir ons die weg na 'n nuwe en beter Beloofde Land. “Julle, daarenteen, is 'n uitverkore volk, 'n koninklike priesterdom, 'n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys”.(1 Pet 2:9-10).

Maar God wil nie hê dat ons net dromers moet wees wat agteroor gaan sit en die groot dag van verlossing afwag nie. Terwyl ons nog hier is, gee Hy ook aan ons die opdrag soos vir Israel: "soek die vrede van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, en bid daarvoor tot die HERE; want in die vrede daarvan sal julle vrede hê”. En hierdie woorde van Jeremia vind ook weerklank in die woorde van Paulus: “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid.” (1 Tim 2:1-2). Want terwyl ons nog hier is, is die belange van die (goddelose) samelewing ook ons belange. Dit is die omgewing waarbinne ons eie nageslag moet opgroei.

Verstaan ons ons roeping en ons plig? Of is ons so begaan oor ons eie lot, dat ons blind geword het vir die geestelike nood om ons heen? As dit die geval is, het die Bose sy sin gekry deur ons heeltemal uit te skakel. Maar as ons doen wat God van ons verlang, kan ons saam met Jesaja sing: “Ek is baie bly in die HERE, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel - soos ‘n bruidegom wat priesterlik die hoofversiersel ombind, en soos ‘n bruid wat haar versier met haar juwele. Want soos die aarde sy plante voortbring, en soos ‘n tuin sy gewasse laat uitspruit, so sal die Here HERE geregtigheid en lof laat uitspruit voor die oog van al die nasies.” (Jes 61:11).

- dw -

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css