Die Weg

 

God het 'n plan met jou lewe

“Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek 'n gevangene is. Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk, en hulle waag dit al hoe meer om die woord van God onbevrees te verkondig” - Filippense 1:12-14.

God is so anders, want Hy is God en Hy kan ons soms so verras met die paaie wat Hy met ons loop. Dit het Paulus ook geleer. In Filippi was Paulus bekend as die een vir wie God die tronkdeure laat oopswaai het (Hand. 16:25-34). Nou sit hy in Rome in die tronk en die deure wil nie oopswaai nie. Natuurlik wonder die mense nou: Het God vir Paulus dalk in die steek gelaat? Waarom help God hom nie?

Paulus oordeel egter nie so vinnig soos ons in wat ons sien nie. Hy het besef hierdie is 'n gulde geleentheid vir hom om die tronkbewaarders se vriend te word. Op die manier het hulle al meer van die Christene begin hou en sou hulle die gelowiges in die toekoms nie meer voor die voet in die tronk gooi nie. Dit het beteken die Christene kon die mense nou met groter vrymoedigheid van God vertel. In plaas van een man, Paulus, was daar nou 'n groot groep getuies. God se plan het gewerk, al het dit beteken dat Paulus se plek in God se plan daar in die tronk tussen die tronkbewaarders was.

Net so het God 'n plan met jou lewe. Ek weet hierdie plan maak soms glad nie vir jou sin nie, maar jy moet net op die Here bly vertrou. Sê dan soos Paulus: "Ek het geen twyfel dat alles uiteindelik vir my goed sal afloop nie."

Uit: “Die Eenjaar-boodskap met oordenkings” deur Jan van der Watt - Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM)


 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css