Die Weg

 

Leef soos een wat `ja` geantwoord het op God se roeping

“Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde.” - Efesiërs 4:2.

‘n Mens merk dit dadelik op wanneer iemand beskeie is, ook sy vriendelikheid, geduld en verdraagsaamheid. Dit is so téén die normale optrede van baie ander mense. Jy verwag eerder dat iemand spog met sy prestasies, hande in die lug gooi, vuis klem en neersien op sy opponente. Vriendelikheid is skaars, eerder suur gesigte en vies vir die wêreld. Ons kla so lekker oor alles wat verkeerd is, ons reageer met onvriendelikheid. Om nie te praat van ongeduld nie! As ons bietjie moet wag in die verkeer, wanneer die dokter my laat wag in die spreekkamer, wanneer die teksboodskap nie op die selfoon wil deurgaan nie ...

Ook op geestelike gebied ontbreek beskeidenheid dikwels. Gesoute Christene sien neer op nuwe bekeerlinge. Een rassegroep aanvaar nie die ander se Christenskap nie. Mense spog met hulle Christenskap asof dit ‘n diploma is wat deur ‘n goeie lewe verwerf is. Net so is sogenaamde Christene dikwels ongeduldig met mekaar, of raak haastig wanneer God nie ons gebede gou verhoor soos ons wil hê nie. Verdraagsaamheid met mekaar? Soms glad nie! Hoeveel splintergroepe van gelowiges is daar nie in elke dorp of stad nie? Dikwels gebore uit liefdeloosheid, beterweterigheid, meerderwaardigheid, skynheiligheid – ja, in wese onverdraagsaamheid.

Paulus skryf: “Ek druk julle dit op die hart!” (Lees Efesiërs 4). Dié woorde is ook vir my en jou. God wil deur sy Woord en Gees by ons 'n hartsverandering sien. Waarom? Omdat Hy ons geroep het. Deur sy roepstem is ons van die pad na die hel weggeroep na die pad van die ewige lewe. Mense wat nog nie “ja” geantwoord het op die evangeliewoord nie, is steeds in die mag van die “vors van die onsigbare magte”. Hulle sondige natuur verslaaf hulle aan allerlei begeertes wat hulle lewe oorheers (Efesiërs 2).  Verlossing beteken Satan heers nie meer oor jou nie, ook nie jou sondige begeertes nie. Jy is op ‘n nuwe pad met jou Here!

Wie Jesus Christus as Verlosser erken en bely, se lewe en karakter lyk anders. Nie trots nie, maar beskeie – want Jesus kry die eer. Nie onvriendelik en liefdeloos nie – want God se vriendelike gesig skyn deur myne, sy liefde loop oor in my lewenstyl. Daarom is mense wat deur God geroep is geduldig. Soos Hy lankmoedig en geduldig met ons is.

Leef dan vandag volgens wie en wat jy is in Christus.

Hy het jou koers verander, sy Gees het jou karakter nuut gemaak. Moet Hom nie bedroef nie!

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief 16/9/2013)


 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css