Die Weg

 

Oor trots en vertoon

Dawid het teenoor God bely: “Ek het swaar gesondig toe ek hierdie ding gedoen het. Vergewe tog nou my oortreding! Waarlik, ek het baie dwaas opgetree.” - 1 Kronieke 21:8 NAV.

Hierdie belydenis van Dawid het gevolg toe die Here sy straf oor Dawid aangekondig het nadat hy die volk getel het. Dat Dawid die volk wou tel was nie teen die wet nie, maar hy het dit om die verkeerde redes gedoen. Dit het gegaan om sy eie eer, sy eie trots en sy eie vertoon, en hy het die belofte van God vergeet wat gesê het: “Ek sal jou rus gee van al jou vyande. Ek maak aan jou bekend dat Ek vir jou 'n koningshuis gaan vestig. Wanneer jy te sterwe kom en jy by jou voorvaders rus, sal Ek een van jou nageslag, jou eie seun, koning maak en aan hom 'n bestendige koningskap gee” (2 Sam 7:11-12).

Dawid het geroem in die groeiende getalle van Israel, en hy het dit aan sy eie wysheid, bekwaamheid en mag toegeskryf. Maar hierdie selfverheffing en eie roem is afskuwelik vir die heilige God, want alles wat die mens vermag is gawes uit Sy hand. Dit was ook die sonde van Nebukadnésar, toe hy gesê het: "Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ‘n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie?" (Dan 4:30 OAV). En God se antwoord op hierdie selfverheerliking van Nebukadnésar was: “Koning Nebukadnésar,  ... die koningskap word jou ontneem; en hulle sal jou uit die mensdom verstoot, en jou woning sal saam met die diere van die veld wees; hulle sal jou plante laat eet soos die beeste, en sewe tydperke sal oor jou heengaan, totdat jy erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil” (Dan 4:31-32 OAV). Dit was die sonde van Herodus Agrippa toe die volk hom toegeroep het: "‘n Stem van ‘n god en nie van ‘n mens nie!" (Hand 12:22 OAV), en dadelik het die engel van die Here hom getref, "omdat hy die eer nie aan God gegee het nie".

Wanneer dinge met ons goed begin gaan, trap ons almal in die strik van die groot versoeking om onsself op die skouers te klop. Dit is wanneer ons ons aanhangers begin tel; wanneer ons met innerlike vreugde na die opbrengste op ons beleggings begin kyk; wanneer ons ons bates tel en ons juwele begin ten toon stel. Ons vergeet gerieflikheidshalwe dat dit alles geskenke is wat deur ons hemelse Vader aan ons sorg toevertrou is, en daarom moet dit 'n saak wees van dankbaarheid eerder as trots.

Hoe ver het Dawid nie geval sedert sy verhewe psalm nie: “Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here” (Ps 131 NAV).

Laat ons na Christus gaan om te leer hoe om sagmoedig en nederig van hart te wees, sodat ons rus kan vind vir ons siele. Laat ons wat ons het, kinderlik as geskenke uit die Vaderhand ontvang sonder om aanspraak daarop te maak. Laat ons versigtig wees as ons na ons besittings kyk of op ons eie krag wil begin roem, en laat ons die woorde van Paulus onthou: "Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie? " (1 Kor 4:7).

FB Meyer

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css