Die Weg

 

Moenie mislei word nie (4) - Nie verdien nie, maar erf

(vervolg vanaf die vorige boodskap)

Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God” - 1 Korintiërs 6:9-11 OAV.

In die eerste twee boodskappe in hierdie reeks is gevra: “Weet julle dan nie?”, “Weet julle dan nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie?” Die derde boodskap het gewaarsku teen misleiding. Nou kan ons dan ten slotte ook aandag skenk aan die uitdrukking “beërwe”.  “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie?”.

Wat  dra kinders daartoe by dat hulle ouers vir hulle rykdom, 'n erfskat, nalaat? Dit is beslis nie die kinders se eie prestasie nie, maar die genade en die voorspoed van hulle ouers.

Met net een enkele woord beskryf Paulus hoe iemand aandeel aan die ryk van God kan bekom: “beërwe”. 'n Mens kan dit net erf, nie verdien nie. Die hele evangelie word in hierdie enkele woord saamgevat. Want as iemand nie meer onder die onregverdiges gereken word nie, is dit nie uit verdienste nie, maar  alleen uit genade. Hulle is sonder hulle eie toedoen as kinders van die hemelse Vader geestelik weer gebore, sodat hulle hul ou sondige natuur afgelê het. En dit is die enigste rede waarom hulle die koninkryk van God sal beërwe.

Van hierdie kinders van genade loop daar nog baie onwetend in hierdie wêreld rond. Daar is nog miljoene verlore seuns en dogters wat ongelukkig nog nie van hulle erfenis gehoor het nie. Hulle sit aan die trôe van hierdie wêreld en probeer in vertwyfeling om gelukkig te probeer wees met die kos van varke (sien Luk 15:16). Dit is waarom ons die evangelie verkondig, sodat ook hulle hul ware en ryke erfdeel in hulle Verlosser Jesus Christus kan insien.

Miskien is vandag jou dag. Vandag as jy sy stem hoor, moet jy nie hardkoppig wees nie! (Heb 3:15). Vandag hoor jy die oproep van verlossing om weg te keer uit jou ou lewe. Maak soos die verlore seun – slaan op jou bors en sê vir jouself: "Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u” (Luk 15:18). En dan lees ons die pragtige woorde: "En hy het opgestaan en na sy vader gegaan. En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen. "(Luk 15:20). Die Here sal ook na jou kom, jou in sy arms neem en jou soengroet in die koninkryk van God. Amen!

ds Wolfgang Wegert (Lasst euch nicht irreführen)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css