Die Weg

 

Vreemdelinge en bywoners

Want ons is vreemdelinge en bywoners voor u aangesig soos al ons vaders; ons dae op die aarde is soos ‘n skaduwee, en daar is geen verwagting nie” - 1 Kronieke 29:15 OAV.

In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was” - Hebreërs 11:13 OAV.

In die vorige eeu, veral direk ná die Anglo-Boereoorlog, was daar baie mense wat, as gevolg van terugslae, op ander mense se plase 'n heenkome moes gaan soek. Hulle kon 'n bietjie vee aanhou en selfs 'n saailand bewerk, maar die grond was nooit hulle eiendom nie. Hulle kon ter enige tyd aangesê word om hul goedjies op te pak en die grond te verlaat. Dit is wat Dawid hier sê in sy gebed en wat in die Hebreër-brief herhaal word. Ons kom met niks die wêreld in nie, en ons gaan met niks daaruit nie, en ons kan ook nie permanent hier bly nie.

Maar helaas, baie mense beskou hulself nie as vreemdelinge en bywoners op hierdie aarde nie, maar as vaste en permanente inwoners. Dit is mense wat geen ander lewe ken as dié van die verganklike wêreld nie. Hulle het hulself vervreem van die hemelse vaderland (Heb 11:15) en bekommer hulle ook nie daaroor nie. Hulle sing dalk soos Lee Marvin (“I was born under a wandering star” in “Paint your wagon”). Die wêreld is die grote Diana wat hulle dien (Hand 29:27-28). Hulle weet nie wat dit beteken nie as Paulus sê: “ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees” (Fil 1:3).

As daardie mense dit sou kon doen, sou hulle altyd op hierdie aarde wou bly en die hemel aan God en die heiliges oorlaat. Maar dit kan nie. Jy kan die wêreld dien soos jy wil, maar jy bly altyd 'n vreemdeling en 'n bywoner en sal dit baie gou agterkom wanneer jy na die ewigheid MOET verhuis. Dit kan gebeur op 'n uur waarin jy dit dalk die minste verwag. Neem dit ter harte.

As jy aanvaar dat jy 'n bywoner op hierdie aarde is, dan kan jy ook weet dat God by jou is soos Hy by al ons voorgangers in die geloof was (Heb 11). Nie een van hulle het hier gebly nie. Tog het hul geloof gebly, iets van hul onblusbare gees. Sonder hulle sou ons bywonerskap op aarde arm gewees het, tot bankrotskap toe.

Jesus het self, soos ons, 'n “bywoner” geword en by ons kom leef en vir ons die ryk paspoort van geloof kom gee om in Hom ons werklike tuiste weer te vind. Dié paspoort dra ons reeds in ons harte: die versekering van God in Christus dat ons aan Hom behoort. Want iemand met 'n paspoort het 'n burgerskap, al swerf hy ook waar. 'n Ewige burgerskap – en blydskap. 

-dw-

(Met aanhaling uit “In die Teenwoordigheid van God”  deur Izak de Villiers - Christelike Uitgewersmaatskappy)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css