Die Weg

 

Die waarde van die mens

wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?” - Psalm 8:5 OAV.

By die begrafnis van ’n ryk man het die mense gevra: “Hoeveel het hy nagelaat?”
“Alles,” was die antwoord. Daar was beslis niks wat hy kon saamneem nie.

Ek hoor dikwels hoedat iemand voorgestel word: “Dis Chris, en hy is 'n....,” so asof ’n mens se beroep sy of haar waarde bepaal. Ek het ook opgemerk dat dit gewoonlik net die rykes of "suksesvolles" is wat so voorgestel word. Tog is dit ironies dat dit juis die mense was wat self groot leed en verdriet deurgemaak het wat die waardevolste besittings vir die mensheid nagelaat het, standhoudende bronne van troos en inspirasie, waarvan baie vir ons ook in die Bybel opgeteken is.

God oordeel ons nie aan ons (wêreldse) sukses nie. “Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan” (1 Sam 16:7 OAV). Ons waarde hang nie af van ons besittings, ons klere, ons huis of ons motor nie. Ons waarde lê in die feit dat God ons gemaak en Christus vir ons gesterf het. Dus is ons almal gelyk en ewe waardevol vir God, of ons iets besit of nie. En omdat Hy ons só waardevol ag, en nie wil hê dat ons verlore moet gaan nie, het Hy sy Seun, Jesus Christus, gegee, selfs toe ons Hom gering geag het.

Aangesien God so baie van ons dink, moet ons dan nie vir Hom wys dat ons Hom ook só waardevol ag deur Hom eerste te stel in ons gesinslewe, ons beroep, ons geestelike lewe nie? Moet ons nie meer eer aan Hom gee as aan verganklike mense nie, waarvan die Psalmdigter sê: “Die mens - soos die gras is sy dae” (Ps 103:16)?.

Die eintlike waarde van iets is dit wat die eienaar daarop plaas. God het bewys dat Hy jou só waardevol ag deur sy Seun te stuur om jou te verlos, sodat jy ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir jou ( vgl1 Pet 1:4).

Gebed: Ons Vader en ons God, ek buig nederig voor U in die wete dat ek geheel en al van U afhanklik is. Sonder U is ek niks, maar as gevolg van u Seun is ek geheilig, geregverdig en gered. Dankie dat U my waardevol genoeg ag om Jesus in my plek te offer. Ek behoort aan U op grond van die bloed van u geseënde Seun, Jesus Christus. Amen.

Uit: “Na hoër hoogtes” deur Billy Graham (effens verwerk) - Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css