Die Weg

 

In daardie tyd - soos deur God bepaal

As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of: ‘Kyk, daar is Hy!’ moet julle dit nie glo nie.” - Markus 13:21.
Maar in daardie tyd, ná daardie verdrukking, ... sal die mense die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit. - Markus 13:24-26.

Ons is lief om programme uit te werk. Gemeentes, skole, gesinne, besighede – ja almal – stel hulle tye vas. Met die seën van die Here kan by baie van daardie tye gehou word. Tog het ons nie beheer oor die tyd nie.

Jesus, die Seun van die mens, self ewige God, kan egter met gesag sê: “In daardie tyd sal ...” – en ons weet dit sal so wees. In sy wysheid het Hy nie vir ons ‘n dag en datum vir alles gegee nie, want by God is ons kalenders en programme van min waarde. Ons ken die Psalm se woorde: “Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag.” (Psalm 90:4). Petrus haal die waarheid ook aan, wanneer hy oor God se groot program skryf (2 Petrus 3:8).

Ons beleef sekerlik van die mees intimiderende tye, omdat dit voel asof niks meer vas en seker is nie. Dinge verander oornag. Aan die een kant wonderlike ontdekkings op mediese en tegnologiese gebied. Aan die anderkant die skrikwekkendste natuurrampe. Dwarsoor die aardbol is daar staatkundige kookpotte, wat soms ontplof en uitbrand, maar op ander plekke weer oor lang tye prut en lyding veroorsaak.

In alles besef ons net meer en meer: ONS IS NIE IN BEHEER VAN DIE TYE NIE!

Ons kan nie met gesag sê: “In daardie tyd sal dit so wees nie” – al wil ons so graag. En dit maak mense bang, onseker, maar ook onverantwoordelik, ...

Kom ons soek opnuut ons anker in die Here, wat alle tye in sy hand het. Met ons oog op Hom en ons hand in syne, stap ons met sekerheid na die dag van môre.  In gehoorsaamheid aan ons Koning en Here leer ons om ons tye volgens sy tye te beoordeel en te beplan. Hy is in sy program doelgerig op pad na ‘n heerlike einde. Wie deel is daarvan, sal nie ontwrig raak deur die onsekerheid, teëspoed en lyding, valsheid en bedrog, misleiding en selfverryking, wat opgesluit lê in ‘n menigte menslik bepaalde programme nie.

Laat die sekerheid van Hom, wat vir ons vooruit kon sê: “In daardie tyd sal ...” ook ons vastigheid wees. In nederigheid en erkenning van ons afhanklikheid van Hom lê die grootste krag!

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css