Die Weg

 

As die geloof wankel

“Dawid het by homself gedink: ek sal nog eendag deur Saul omkom” - 1 Samuel 27:1.

Dit was 'n verkeerde gedagte wat by Dawid posgevat het. Hy het beslis geen rede gehad om te dink dat God hom deur Samuel tot koning sou salf en dan nie Sy belofte gestand sou doen nie. Op geen  geleentheid het die Here hom, sy kneg, ooit verlaat nie. Hy was dikwels in gevaarlike situasies en nooit was daar 'n geval waar God nie tussenbeide getree het om hom te red nie. Daar was nooit 'n geval gewees waar Dawid kon sê: “hier is 'n bewys dat die Here nie met my was nie.” As Dawid sy verlede in oënskou sou neem, sou hy wel die teenoorgestelde gesien het. Nou, in sy uur van nood, kon hy steeds verseker wees dat God weer tot sy redding sou kom.

Is dit nie ook maar hoe ons in dieselfde posisie sou reageer nie? Is dit nie dieselfde manier waarop ons aan God se hulp twyfel nie? Is dit nie wantroue sonder 'n rede nie? Het ons ooit die geringste rede gehad om ons Vader se goedheid in twyfel te trek? Het ons al nagedink oor sy barmhartigheid? Het hy een keer ons vertroue geskaad?

Nee, ons God het ons nooit verlaat nie! In ons donker nagte het sy liefde soos 'n ster in die duisternis geskyn. Hy het altyd met sy skild oor ons die wag gehou. Ja, ons is dalk deur baie beproewinge, maar ons het gelouter anderkant uitgekom. Die gevolgtrekkings wat ons uit ons vorige ondervindings kan maak, is dat Hy wat saam met ons in ses benoudhede was, ons nie in die sewende sal verlaat nie!

Wat ons weet van ons getroue God bewys dat Hy ons tot die einde toe sal bewaar. Laat ons dan nie probeer om die teendeel te bewys nie. Hoe kan ons ooit so aan ons God twyfel?

Here, vernietig ons kleingelowigheid.

Charles H Spurgeon (1834 - 1892).

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css