Die Weg

 

Goliat beteken nie moedeloosheid nie

“'n Mens moenie oor hóm moedeloos word nie,” sê Dawid toe vir Saul. “Ek sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.” - 1 Samuel 17:32.

Dis menslik en doodnormaal om moedeloos te word, veral wanneer jy gekonfronteer word met ’n situasie waarvoor jy geen oplossing het nie. Hier het die Filistyne met ’n ”onoorwinlike” wapen te voorskyn gekom: ’n gepantserde vegter, ’n geweldige groot man wat elke dag die soldate van Israel uitgedaag het om teen hom te kom veg. Maar die Israeliete het eerder die skuiltes opgesoek.

Dawid wat op die gevegsterrein verskyn met proviand vir sy broers, sê egter vir Saul dis moontlik om Goliat te oorwin, solank ’n mens nie moedeloos word nie. Hy het al genoeg gevare van sy skaaptrop weggekeer.

Dawid se geheim was dat hy agter die skape tot eer van sy God gesing het, dat hy van jongs af reeds geleer het dat niks voor die mag van sy God standhou nie. En God eer selfs Dawid se jeugdige oormoed.

Jare gelede toe ek nog baie jonk was, het ek geworstel met ’n probleem waarvoor ek geen lig hoegenaamd gesien het nie. Daar was net nie ’n oplossing nie. Ek het by ’n kerkgebou in die stad verbygestap en wou daar gaan bid. Nog terwyl ek by die trap opgeloop het, het ek hardop gesê: "Here, ek dink dis tyd dat ek hierdie probleem, wat ek tog niks aan kan doen nie, in u hande laat. U sal my help.” Ek het net daar omgedraai. En die Here hét gehelp; nie deur die probleem oombliklik op te los nie, maar deur my te leer hoe om dit te hanteer.

Dawid het geweet saam met God kon hy alles hanteer. Daar sou tye kom, soos vir ons almal, dat hy ook ”moedeloos” en bedroef sou word. Maar God was altyd aan sy sy. Dit gee ons moed, al trap ons maar wankelrig. Die Here hou ons regop.

Gebed: Here, baie Goliatte kom ons tegemoet en maak ons moedeloos. Maar U kom ons ook tegemoet. Leer ons presies hoe om die Goliatte in ons lewe te hanteer.

Uit: “In die Teenwoordigheid van God”  deur Izak de Villiers - Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css