Die Weg

 

Wie is ek?

“Wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?“ - Psalm 8:5.

Die bekende filosoof, Friedrich Schleiermacher, het een middag laat op ’n bank in ’n park gaan sit. Hy het diep nagedink oor die sin van die lewe. Die tyd het aangestap en die hekke van die park moes gesluit word. ’n Polisieman het, sonder om te weet met wie hy te doen het, na Schleiermacher toe gegaan en gevra: “Wie is u, Meneer?”‘ Hy het geantwoord: “Wie is ek? Ek wens ek het geweet!”

’n Mens kan dié vraag na jou diepste wese op baie maniere beantwoord. Jy kan jouself in depressiewe oomblikke laag waardeer. Jou mislukkings, sondes, onvervulde ideale kan só voor jou opdoem dat jy tot die slotsom kom: ek is ’n nul op ’n kontrak. Ek leef ’n aantal jare, beleef ’n aantal dinge, doen ’n bietjie goed en baie kwaad, en dan sterf ek. Jy kan later só onder die indruk van jou nutteloosheid kom, dat jy dit oorweeg om ’n einde aan alles te maak.

God takseer ons nie laag nie. Hy dink aan ons, sien na ons om (vgl. Ps. 8:5). Hy staan in ’n verhouding met ons. Vir Hom, en voor Hom het ons waarde. Is ons nie baie meer werd as die kraaie in die lug en die lelies van die veld nie? (Vgl. Matt. 6:25-34.) Ons is! God stel ons aan as sy verteenwoordigers, sy ambassadeurs op hierdie aarde (vgl. Ps. 8:7-9). Ons het ’n opdrag, ’n taak  - wat die ander skepsels van God ons net kan beny. God se siening van my curriculum vitae stem nie noodwendig ooreen met my eie siening, of dié van ander mense nie. Hy waardeer my ooreenkomstig die waarde wat Hy self aan my toegeken het. Ek, met die liggaam en persoonlikheid wat ek het, is vir Hom belangrik. Ek! Wat is die mens dan.....?(Ps. 8:5). Wie ís ek? ’n Skepsel van God. ’n Vennoot van God. Ek kan die lewe gerus ook maar ’n slag geniet.
Here, dankie dat U aan my dink.

Johan Cilliers in “Toegewy aan God” (Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css