Die Weg

 

Om te wag op die Here....

“Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here!” - Psalm 27:14.

Moes jy al lank wag vir iemand wat beloof het om jou saam te neem na ‘n spesiale geleentheid? Die eerste gedagte wat opkom is: “Is hy net laat, of het hy heeltemal vergeet?” Agter hierdie gedagte lê die een groot vraag: “Kan ek hom vertrou?” Of jy vertroue in iemand het, bepaal of jy langer gaan wag of nie.

In ons verhouding met die Here is vertroue so belangrik. Psalm 27 sluit met ‘n sterk appèl af: “Ja, vertrou op die Here!” Letterlik sou ‘n mens kon vertaal: Ja, wag op die Here! Tussen die twee aanmoedigings om op die Here te wag, lees ons: Wees sterk en hou goeie moed (of “laat jou hart sterk wees!”) .

Wag op die Here met ‘n innerlike krag, omdat jy Hom kan vertrou. Jou vertroue in Hom word versterk deur te luister na wat Hy reeds gedoen het, hoe Hy by sy beloftes gehou het. Hy het Hom deur die geskiedenis van volke en individue bekend gemaak as ware God. Totaal anders as mense. Mense sal jou in die steek laat. God nooit. Daarom: Wag met vertroue op die Here!

Nou sal baie van die lesers kan sê: Dit is glad nie so maklik om op die Here te wag nie. Hoe lank moet ek wag? Hoe moet ek wag? Wat moet ek doen terwyl ek wag? Die kinders van die Here wag op Hom in tye wanneer ons onseker is oor die volgende tree wat ons moet gee. Of wanneer daar lyding of swaarkry op ons pad kom. Ons wag op ‘n antwoord. Ons wag op uitkoms. Ons wag op wysheid en insig.

Om te wag op die Here is dus nie ‘n passiewe, hande gevou, gesindheid nie. Nee! Wag op die Here kan slegs vrug dra wanneer ons in daardie tyd op Hom fokus. Deur gebed, deur stil te word, deur in ‘n besige program tyd vir kommunikasie met Hom en met jouself in te ruim, deur Bybellees en nadenke, deur goeie lektuur te lees, deur gesprek met ‘n mentor of vertroueling wie ook die Here vrees.

Wag op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, wag op die Here. Doen dit met die vaste sekerheid dat Hy leiding, uitkoms of lig sal gee, soos wat dit vir jou nodig is. Moenie haastig word nie. Moenie na verkeerde raad luister nie. Waak daarteen om op te tree voordat jy goed na Hom geluister het. Want Hy is betroubaar en regverdig.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css