Die Weg

 

Die enigste wat jy nodig het

Dit alles het ek nagekom,” het die jongman gesê. “In watter opsig skiet ek nog te kort?”  - Matteus 19:20 NAV.

'Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”' - Lukas 10:41-42 NAV.

Net een ding is nodig” - en dít is Christus. Hy is die belangrikste vir jou lewe. En dan skenk Hy jou ook hierdie groot genade: jy kán na Hom toe kom. Néé, meer as dit, jy MOET na Hom toe kom. Jy moet tot die besef kom dat Hy die ware voedsel vir jou lewe is: “My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank ” (Joh 6:55) en “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie” (Joh 6:35). En jy kan alleen tot hierdie besef kom deur die geloof.

Maar omdat Christus nou ook self die bron van die geloof is, gee Hy hierdie geloof aan hulle wat na Hom kom, en doen Hy dit uit die volheid van sy genade. En hoe wankelrig die geloof ook in die begin mag wees, dit sal deur sy eie werking versterk word. Dit is soos 'n rivier wat klein begin en al hoe sterker word hoe verder dit gaan. Vertrou alleen maar op Hom van wie jy hierdie geloof ontvang en wat die geloof in jou laat werk – dit is Christus.

As jy Christus het, het jy die nodige – maar mis jy hierdie één ding in jou lewe, dan is jy inderdaad arm, al besit jy die hele wêreld. Hoe baie mense is tevergeefs bekommerd en onrustig oor allerlei sake in die lewe; hulle werk en swoeg tot aan hulle einde, om dan eers wanneer die lig van die ewigheid op hul sterfbed skyn, uit te vind dat hulle niks gevind het vir die ewigheid nie!

In die oë van die wêreld is ons dalk hooggeleerde mense, wat goed onderlê is in alle kennis en wetenskappe. Die wêreld beskou ons dalk as gelukkig met dit wat ons deur ons geswoeg bymekaar gemaak het. Iemand kan by sy begrafnis as “'n nuttige lid van die gemeenskap” gehuldig word. Maar watter nut het dit; wat het ons van die lewe; wat het ons in werklikheid bereik, as ons die nodige vir tyd en ewigheid, naamlik Christus, nie gevind het nie!

Verwerk uit: Gulden Schat van CH von Bogatzky.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css