Die Weg

 

Die storms van die lewe

'Laat daardie middag sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons vaar oorkant toe'”....... Skielik het daar 'n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan' - Markus 4:35-36.

'Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?”' - Markus 4:38.

Jesus het die dissipels aangesê om op die meer uit te vaar. Maar terwyl hulle uitvaar, breek daar skielik so 'n groot storm om hulle los dat die dissipels paniekbevange raak. Die teenwoordigheid van Christus op die boot was nie 'n waarborg dat hulle van die storms gevrywaar sou wees nie.

Ook in ons lewens is daar nie enige belofte dat gelowiges geen storms in die lewe sal ervaar nie. Ons is almal onderhewig aan die storms van versoekings, van droefheid in siekte en dood, van teleurstellings en teëspoed. Dit is soos branders en woeste golwe wat oor 'n mens se siel rol. Versoekings kom wanneer ons dit die minste verwag. Rampe tref ons wanneer ons ons tyd rustig in 'n gelukkige huis deurbring. Op die tyd wat ons die minste verwag word 'n kind van ons weggeneem. Die hoop wat ons deur jare opgebou en gekoester het, verwelk in een nag soos plante wat deur die winterryp verskroei word. Die storms van die lewe is byna almal sonder vooraf waarskuwings, soos ook die dissipels in die skuit dit ondervind het.

Die dissipels het gedink dat Jesus onverskillig gestaan het teenoor die storm en die gevaar waarin hulle hul bevind het; dat Hy Hom heeltemal van hulle onttrek het. Maar hoe onverdiend was hierdie verwyt van die dissipels nie. Te midde van die woeste storm was hulle nog steeds veilig. Die vaartuig wat hulle gedra het sou nie sink nie. Hulle moes net vertrou. Daarom sê Jesus verder: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?

Is dit nie ook so met ons gesteld nie? Somtyds wanneer die storms van die lewe oor ons breek, vra ons ook waarom God dit toelaat. Die dissipels – en dan ons ook – moes 'n paar lesse leer. Die eerste was, hoe hulpeloos hulle in hulself was te midde van die gevare van die wêreld. Die tweede, dat hulle alleen deur hulle geloof in Jesus Christus uitgehelp kon word. As Jesus hulle nie vir 'n tyd lank alleen gelaat het nie, sou hulle dit nooit geleer het nie! Geld dit nie ook in ons lewens nie?

Soms wil dit vir ons voorkom asof Hy Hom van ons onttrek. Hy staan egter nooit onverskillig teenoor ons nie. Hy verwaarloos of vergeet ons nooit nie. Ons moet egter vas glo dat ons in tye van nood en gevaar, sonder vrees of bekommernis, op Hom kan vertrou.

Hoewel Hy skielik wakker gemaak is te midde van 'n toneel van verskrikking het Jesus kalm en rustig opgestaan. Richard Trench het gesê: “Dit is gevalle soos hierdie – gevalle van skielike onverwagte verskrikking, sonder 'n oomblik van voorbereiding – wat 'n mens se gees op die proef stel, nie alleen sy innerlike krag nie, maar ook die grootheid en reinheid van sy hele natuur”.

Maar daar is ook 'n groter waarheid wat ons hier leer en wat vir ons groot vrede behoort te bring. Jesus sê: “Hou op! Bedaar!” (Mark 4:39). Geen storm raak ooit onder die beheer uit van Hom wat ons Here en Verlosser is nie. Daar is niks in hierdie wêreld wat nie onder die heerskappy staan van Hom wat sy lewe vir ons aan die kruis gegee het nie.

Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie” (Joh 14:27).

'Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê: “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid.”' (Open 5:13).

-dw-  (Met erkenning aan JR Miller)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css