Die Weg

 

Op die sterfbed

"Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar 'n tent is, afgebreek word, ons 'n vaste gebou in die hemel het. Dit is 'n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan..” - 2 Korintiërs 5:1 NAV.

Die sterwe van die mens is ’n geheimenisvolle gebeurtenis. Wie van ons wat lewe sal weet wat dan presies gebeur? Dat daar egter iets geweldigs plaasvind, ly geen twyfel nie. In die Heilige Skrif word die punt van die sluier gelig. Daar word dikwels gepraat van die verganklikheid en kortstondigheid van ons lewe. Wie in die illusie lewe dat hierdie lewe die een en die al is, word op sy sterfbed wreed ontnugter. Die mens is soos die gras wat verdor (Ps. 103:15).

Verder lê dit nie in die mag van die mens of hy wil sterwe nie; hy moet sterwe. Die vale gedaante van die dood sluip tussen die wit gestaltes van geneeshere en verpleegsters deur as die tyd van die sterwe gekom het. Die gewillige, dienende hande van dierbares om die sterfbed kan die dood nie teëhou nie.

Paulus beskryf in 2 Korintiërs 5 die dood nog verder. Hy sê ons aardse tentwoning word afgebreek. Paulus vergelyk ons aardse lewe met die lewe in ’n tent. Dis maar tydelik. As die storms van die dood kom, bied dit weinig skuiling. Die tentpenne word uitgeruk en die tent afgebreek. Eintlik is die mens dakloos indien hy dan nie ’n onderdak kry by die Vaderhuis nie. ’n Onderdak? Nee, ’n ewige gebou in die hemele. Daarom sê hy dat die sterflike deur die lewe (dit is deur die toekomstige lewe by die Vader) verslind word (vers 4 OAV).

Maak jou dan klaar, o mens, vir die aftakeling van jou tentwoning.

Dr B Duvenhage in “Tel die sterre”.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css