Die Weg

 

Oor lewe en dood

As 'n mens lank lewe, moet jy oor alles dankbaar wees. Maar jy moet onthou dat die donker dae van die dood wat kom, ook baie is. Alles kom tot niks” – Prediker 11:8-9.

Die skrywer van Prediker laat 'n mens by tye erg ongemaklik voel. Enersyds prys hy die lewe met al sy genietinge baie hoog aan, maar telkens spoel hy die genoegdoening oor die lewe weg met 'n emmer koue water wanneer hy sê dat alles tevergeefs is en tot niks kom nie. Wat wil hy nou eintlik sê?

Ek dink die Prediker lei ons tot 'n realistiese lewensbeskouing. Hy leer ons om die lewe met al die gawes wat daarmee gepaard gaan te waardeer en te geniet. God stel die dinge tot ons beskikking. Ons mag ons daarin verlustig. Maar ons moet net oppas dat ons nie op "tevergeefse" dinge versot raak nie. Hou rekening met die dood, nie as 'n pretbederwer nie, maar as 'n werklikheid waarvoor jy gereed moet wees.

Alhoewel die Prediker "die donker dae van die dood" erg onheilspellend laat klink, weet ons mos van beter. Ons weet van 'n "ewige lewe in heerlikheid" waarvan die Nuwe Testament by herhaling getuig. Ons kan die lewe geniet met die oog op 'n ewige lewe waarvan die "dae baie is". Maar dan moet ons tog ook daarteen waak dat ons nie versot sal raak op dinge wat op niks uitloop nie.

Wees dankbaar vir die lewe en wees gereed vir die dood.

Uit: “Hoop vir die Lewe” deur Johan Smit. Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy(CUM).

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css