Die Weg

 

Die Heilige Gees maak my `n brief van Christus

Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge. Hulle sal uitspruit soos gras in die veld, soos wilgerbome langs waterlope” – Jesaja 44:3-4.

Soos die reën na tye van droogte nuwe lewe laat uitspruit, so bring die Heilige Gees ook nuwe lewe in die lewe van God se kinders. 'n Boom wat deur droogte geteister word, is geen mooi gesig nie, maar as die reën kom en die waterstrome begin weer vloei, word die boom weer lowergroen en staan hy daar in prag en skoonheid. Die wilgerboom word oortrek met miljoene groen blare en word een van die mooiste gesigte in die natuur.

Jesaja leer ons dat mense innerlik mooi word waar die Heilige Gees kom omdat daar by hulle nuwe lewe gewek is. Die Heilige Gees wil in ons kom woon sodat ons ook nuwe mense kan word wat geestelik sterk groei en innerlik gesond en mooi is. Daar is egter 'n ernstige voorwaarde vir die wilgerboom om te kan groei: Dit moet by 'n waterstroom geplant wees. Dit is die geheim van die wilgerboom: water.

Psalm 1 praat van bome wat geplant is by waterstrome en wat gevolglik vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hierdie waterstroom is die Heilige Gees. Hy lei ons na Jesus toe, die Bron van lewende water. Die Gees vertroos ons in ons droefheid en Hy leer ons wat reg en wat verkeerd is.

Op die terrein van die nuwe kinderdorp op Ugie wou ons graag wilgerbome plant omdat hulle in daardie gebied so goed aard en in die somer vir die kinders heerlike koelte sou skep. Langs die Wildebeesrivier wat by die dorpie verbyvloei, groei daar welige wilgerbome. Ons het dik takke van die wilgerbome afgekap, diep gate gegrawe en hulle met goed bemeste grond gevul. Toe het ons die kaal stamme van daardie takke in die gate geplant en hulle gereeld en baie water gegee. Daarna het ons gewag. Ons vreugde het geen perke geken toe die eerste groen uitloopsels te voorskyn kom nie. Die bome het gedy omdat hulle gereeld en baie water gekry het. Dit het 'n pragtige laning wilgerbome geword. Die voëltjies het daarin kom nesmaak en die kinders kan in die koelte van die bome speel.

So bring die Heilige Gees groei in ons lewe sodat ons nuttig kan wees in die koninkryk van God. Mag ons opnuut vervul word met vreugde omdat ons geestelik groei vanweë die water van die lewe wat ons van Jesus ontvang.

Uit: Die Heilige Gees en Pinkstervolheid deur Solly Ozrovech, met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css