Die Weg

 

Met jou eie lydingsweg as getuie vir Christus

"Maar selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou moed! Niemand van julle sal sy lewe verloor nie. Net die skip sal vergaan" - Handelinge 27:22.

Deur middel van ’n engel laat God vir Paulus midde-in die seestorm weet dat hy wel nog voor die keiser in Rome sal verskyn. Hy sal die martelaarskap beleef. Die skipbreuk sal nie die dood vir hom nader bring nie. Is dit goeie of slegte nuus vir Paulus? Inderdaad bring die lydensweg wat vir Paulus voorlê, redding vir die hele bemanning van die geteisterde skip.

Paulus weerspieël met sy lotgevalle die weg tot redding deur die Verlosser, Jesus Christus. Die lyde en sterwe van die Gekruisigde is die redding van die wêreld. Dit moes vir die mense op die skip as ’n onverstaanbare wêreld voorgekom het: die gevangene, Paulus, was eintlik in die ellendigste situasie van hulle almal. Maar juis hý word die bemoediger van almal aan boord, wat vir hulle tot redding sou dien. Hierdie skynbare teenstrydigheid is tipies vir Christene: “Ons word behandel as verleiers, en tog is ons betroubaar; as onbekendes, en tog is ons goed bekend; as sterwendes en, soos julle sien, ons lewe; as gestraf, maar ons is nie doodgemaak nie; as bedroefdes, en tog is ons altyd opgeruimd; as armes, maar ons maak baie ander ryk; as mense wat niks het nie, en tog besit ons alles” (2 Kor. 6:8-10).

Hoekom kan ek nie?

Die jong vrou voor ons, byna dertig jaar oud, was ’n Jodin wat Jesus as Messias bely het. Sy vertel van haar weg na haar geloof in Jesus. Sy vertel ook van die skielike kankerdiagnose, wat haar met die aangesig van die dood in aanraking gebring het. Haar vriende het gevrees dat hierdie slag ’n skok sou wees vir haar jong geloof in Jesus, die Messias. Sy kon gevra het: "Waarom laat God dit toe? Waarom het dit juis vir my getref?” Maar sy het gedink: as hierdie verskriklike diagnose soveel ander mense tref wat Jesus nie ken nie, waarom sal God dit van my weghou wat tog die houvas en troos in die opgestane Jesus Christus het?

Ons het betowerend na haar geluister. Dit was ’n volkome logiese redenasie: Slegs hulle wat uit ervaring die nood van ander mense regtig verstaan, kan vir hierdie mense moed gee en werklik tot hulp wees. Dit is waar. Maar hierdie les word slegs deur die harde werklikheid geleer.

Uit: Neukirchener Kalender: 2009

-----------

Sien gerus ook die getuienis van ds. Gabe van Duinen in die vorige boodskap. -dw-

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css