Die Weg

 

Onwaardige mense word waardige getuies

Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen” -Jesaja 6:7.

Blaai ons deur die Ou Testament, merk ons dat Jesaja ‘n indrukwekkende profetiese boek is, met baie spesiale uitsprake. Hy het onder andere die voorreg gehad om die koms van die Messias en sy lyding vir ons sondes in fyn besonderhede te beskryf. “Wat ‘n profeet!” wil jy dan uitroep. Hoe minderwaardig voel ons nie teenoor so ‘n kragtige getuie van God se wil nie.

En tog, Jesaja was ‘n ONWAARDIGE MENS wat deur God geroep is vir sy profetiese werk. In Jesaja 6 word sy roeping op aangrypende wyse beskryf. Dit is asof die heilige God in groot letters wou laat opteken: Dit is nie Jesaja wat so ‘n groot man was om profeet te kon wees nie, maar God wat hom daarvoor waardig gemaak het.

Jesaja het die Here op ‘n hoë troon gesien, sy kleed wat die tempel vul, serafs wat Hom dien. Hulle roep uit: “Heilig is God.” Die tempeldeure rammel en rook vul dit. Jesaja roep: “Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ’n volk van wie elke woord onrein is.” (Jesaja 6:5) Verlore! Onrein! Waarom sou God so iemand roep? Was daar nie meer geskikte persone nie? Nee, ons is almal van nature onrein deur ons sondeskuld. En tog wil Hy ‘n mens gebruik.

‘n Kool word van die altaar geneem en hy hoor: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.” Dan aarsel hy ook nie, wanneer iemand gesoek word om God se boodskapper te wees nie. Hy roep: “Hier is ek! Stuur my!

Die onwaardige Jesaja is ‘n WAARDIGE profeet gemaak. So het Jesus onwaardige vissermanne geroep, van hulle dissipels gemaak en hulle opdrag gegee om getuies van sy verlossing te wees. Hy betaal deur sy kruisdood vir hulle (en andere) se sondeskuld. Maar na die hemelvaart moes hulle eers in Jerusalem wag op die krag van die Gees. Dit is asof die heilige God eers met ‘n gloeiende kool elkeen se lippe aanraak toe die Heilige Gees in iets soos vuurtonge op hulle gedaal het.

ERVAAR JY DIE ROEPING OM GETUIE VIR DIE HERE TE WEES? Voel jy onwaardig? Bely dit dan voor God. Maar weet ook: Die Here Jesus het vir jou sondeskuld betaal. Hy het sy Gees uitgestort om mense soos jy toe te rus om waardige getuies te kan wees. Aanvaar dit in die geloof: Jy is rein gemaak, toegerus om te kan getuig oor God se wil vir ons lewe vandag.

Dr. Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css